Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie moet al vroeg spelers leen
Die vaskopstut van die Luiperds, John-Roy Jenkinson, sal vir die res van die Curriebeker-reeks aan die Haaie geleen word. Foto: Gallo Images

Ná slegs een Curriebeker-wedstryd is die Haaie se beseringsituasie só benard dat hulle met die hoed in die hand elders spelers moet leen vir die res van die seisoen.

Die vaskopstut van die Luiperds, John-Roy Jenkinson, sal vir die res van die Curriebeker-reeks aan die Haaie geleen word.

Lees ook:

Div: ‘Daar is steeds ​baie rassisme in rugby’

Die Springbokke ​gaan meer skop

Die besering wat Lourens Adriaanse in die nederlaag teen die Pumas opgedoen het, asook dié van Thomas du Toit, beteken dat die Haaie dun gesaai is wat beskikbare vaskoppe betref.

Daar is dus buite die provinsie gekyk vir ’n geskikte vaskop.

Jenkinson is ’n oud-leerling aan Glenwood High en het KwaZulu-Natal ook op die Cravenweek verteenwoordig voordat hy Potchefstroom toe is waar hy vir die Pukke en die Luiperds begin speel het.

In 2011 was die 24-jarige Jenkinson ’n Junior Springbok.

Benewens Adriaanse en Du Toit, sukkel die flanke Jean-Luc du Preez en Khaya Majola, asook die vleuel S’bura Sithole ook met beserings wat hul beskikbaarheid vir Saterdag se kragmeting met die OP-Kings in Durban in die gedrang bring.

Ryan Strudwick, die Haaie se voorspeler-afrigter, het erken hulle het die intensiteit onderskat waarmee die Pumas die afgelope Vrydagaand begin het. “Ons het nie verwag hulle sou so stewig afgesit het nie,” het Strudwick gesê.

Dit is ’n verstommende erkenning, veral omdat dit die eerste wedstryd van die seisoen was en dit aanvaar kon word dat die Pumas vanuit die staanspoor met ’n geweldige aanslag vorendag sou kom.

Die gevaarligte moet nou al kwaai flikker vir die Haaie en vrae moet gevra word oor hoe dit kon gebeur dat hulle nie voorbereid was op ’n intense aanslag van die Pumas nie, veral op hul tuisveld in Mbombela.

“Hulle (Pumas) was voorlangs net té sterk vir ons en dit was ’n baie teleurstellende vertoning in die eerste helfte.

“Wat in daardie eerste helfte met ons gebeur het, het ons oë laat oopgaan en in die tweede helfte het dit veel beter met ons gegaan.

“Ons is tevrede met die karakter wat in die tweede helfte getoon is om terug te veg en binne trefafstand van die Pumas te kom. Die verdediging was glad nie sleg nie,” het Strudwick gesê.

Dit laat jou wonder, veral in die lig daarvan dat meer as 20 duikslae gemis is. Strudwick het wel toegegee dat die skrums en lynstane ’n “massiewe probleem” was.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.