Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heinrich Brüssow groet die Cheetahs
Die flank Heinrich Brüssow is ná ’n dekade as een van Bloemfontein se gunsteling-rugbyseuns verlore vir die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Bloemfontein. – Presies tien jaar nadat Heinrich Brüssow sy eerste senior kontrak met die Cheetahs gesluit het, is hy verlore vir dié franchise.

Daar word verneem die 28-jarige Springbok-flank, wat ’n groot gunsteling onder Cheetahs-ondersteuners is, het aangedui dat hy nie sy kontrak ná vanjaar se Super-reeks met die Cheetahs sal verleng nie.

Hy sal in 2016 en 2017 net vir sy Japanse klubspan, Docomo Red Hurricanes, speel.

Hy is wel steeds vir die Bokke beskikbaar.

Lees ook:

Superru​gby-gids: Week 15

JJ Engelbr​echt wil nou sy kanse gebruik

Seabelo Sena​tla se kop is reg

Leeus se skuiwe t​akties van aard

Segelose toer d​alk Haaie se lot

Brüssow speel reeds die afgelope twee jaar in Japan en moes die Cheetahs voor einde Maart laat weet of hy weer vir 2016 se Super-reeks beskikbaar sou wees.

Hy het in 2012 laas Curriebeker-rugby vir die Cheetahs gespeel.

Hy sal weens ’n armbesering wat hy vroeër opgedoen het, nie weer die seisoen Super-rugby speel nie en hoop nou om by die Bok-agterdeur in te glip vir moontlike deelname aan die Wêreldbeker-toernooi in September en Oktober in Engeland.

Brüssow het in 2005 sy eerste senior kontrak met die Cheetahs gesluit.

Hy het die Vrystaters ’n jaar later gehelp om die Curriebeker op dramatiese wyse op sy gunsteling-jagveld, die Vrystaat-stadion, met die Blou Bulle te deel.

Hy was ook in 2007 deel van die Cheetahs se seëvierende Curriebeker-span.

Die Cheetahs het glo reeds ’n driejaarkontrak met die Shimla Tienie Burger gesluit om die leemte te help vul wat Brüssow se afwesigheid sal laat.

Burger het juis die seisoen nadat Brüssow beseer is sy Super-buiging vir die Cheetahs gemaak.

Voor sy besering het Brüssow sodanig in die Cheetahs-trui beïndruk dat hy terug in die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, se voorlopige Wêreldbeker-planne was.

Die moontlikheid bestaan wel dat Brüssow eendag kan terugkeer om die Cheetahs in 100 Super-wedstryde te verteenwoordig en sy loopbaan hier sal afsluit.

Hy het reeds 81 Superrugby-wedstryde op sy kerfstok.

Een van sy voormalige Cheetahs- en Bok-flankmaats, Juan Smith, het juis onlangs aangedui dat hy sy rugbyloopbaan in die toekoms by ’n Suid-Afrikaanse span soos die Cheetahs wil kom afsluit.

Sy kontrak met sy Franse klub, Toulon, eindig in 2016.

 Nog ’n Cheetahs-losvoorspeler Willie Britz het onlangs aan Jóhann Thormählen bevestig dat hy vanjaar se Curriebeker-reeks sal misloop nadat hy ’n kontrak met die Japanse klubspan Shining Arcs gesluit het.

Hy sal wel vir die Super-reeks terugkeer.

Die flank Jean Cook kan hom later by die Italiaanse klubspan Zebre gaan aansluit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.