Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Heyneke Meyer ‘dink anders’ oor Heinrich Brüssow
Heinrich Brüssow | Foto: Conrad Bornman

Heinrich Brüssow het hom met sy skitterspel gedwing om sy mening oor hom te verander, het Heyneke Meyer, die Springbok-afrigter, Maandag by Montecasino in Johannesburg erken.

“Ek moet erken ek dink anders oor Heinrich as wat ek voorheen oor hom gedink het.”

Meyer het skertsend gesê hy dog hy gaan ’n medalje kry omdat hy Brüssow nou uiteindelik by sy Bok-groep betrek het, “maar nou word ek weer uit ander oorde gekritiseer omdat ek nie vir Jaco Kriel gekies het nie.

“In die Kaap is daar weer ouens wat my wil stenig omdat ek nie vir Nizaam Carr gekies het nie.

“Ek sê dit met groot deernis, maar as afrigter kan jy net nie wen wat jou keuses betref nie.

“Jy sal maar altyd by die rugby-publiek in die moeilikheid wees, maar ek waardeer die passie wat die mense daar buite uitstraal.”

Lees ookAllister Coetze​e, Johan Ackermann moet Bokke ná Meyer-era afrig

Op die vraag wat sy ommekeer met Brüssow teweeggebring het, het Meyer gesê: “Ek is ook maar net menslik en jy besef die druk wat baie keer teen jou is.

“Jou kinders kom by die huis en sê daar word allerlei dinge gesê. Daar was ’n stadium toe ek gevoel het Heinrich het van sy vaart verloor, maar ek dink sy besluit om in Japan te gaan speel, het hom baie gehelp.

“Ek het hom ook nog altyd as ’n passievolle Springbok beskou.

“Soos hy vanjaar met sy terugkeer vir die Cheetahs gespeel het, was uitstaande.

“Dit is baie jammer hy het nou seergekry, want ek sou hom graag in die eerste twee toetse van die jaar wou laat speel om te sien hoe hy daar inpas,” het Meyer gesê.

“Ek beskou tans steeds vir Francois Louw as die beste oopkantflank, maar moet daaraan dink wat kan gebeur as hy seerkry.

“Daar is wel ouens soos Marcell Coetzee en Siya Kolisi, maar hulle is nie uit en uit oopkant-spesialiste nie.

“Ek voel Heinrich pas die beste in daardie posisie, want hy speel na die bal toe en is nie net ’n uitstekende balsteler nie. Hy verseker ook dat daar vinnige balbesit gegee word.

“Ek glo in daardie toestande wat ons gaan ervaar tydens die Wêreldbeker, sal hy ideaal wees.”

Wat die Leeus se Kriel betref, het Meyer gesê hy was baie naby aan die groep, maar wat ook teen hom getel het, is dat hy nie ’n spesialis-oopkantflank is nie.

“Hy word by die Leeus meer as ’n hardloper met die bal gebruik, met (Warrick) Tecklenburg wat eintlik meer hul oopkantflank is.

“Ek kan net vyf flanke Wêreldbeker toe vat en daarvan sal minstens twee oopkant-spesialiste moet wees.”

Dit wil in hierdie stadium voorkom asof Louw en Brüssow daardie twee sal wees.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.