Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Jake White lok WP-ster
Demetri Catrakilis al vanjaar na Frankryk
Die Westelike Provinsie sal straks vanjaar nie meer op sy puntemasjien Demetri Catrakilis se geleerde skopstewel kan staatmaak nie. Foto: Jaco Marais

Die voormalige Springbok-afrigter Jake White het suksesvol jag gemaak op een van die Westelike Provinsie se groot rugbysterre.

Demetri Catrakilis, losskakel-held van die WP se Curriebeker-seges in 2012 en verlede jaar, gaan hom later vanjaar by White se Franse klubspan, Montpellier, aansluit.

White dien tans in ’n waarnemende afrigtingsrol van ses maande by Montpellier, maar het verlede week die hoop uitgespreek dat sy kontrak met twee jaar verleng sal word.

In ’n sterk aanduiding dat sy wens bewaarheid sal word, is daar Dinsdag in Australië berig dat die Wallaby-skrumskakel Nic White hom ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi by Montpellier sal aansluit.

Jake White

Hy het by die Brumbies onder Jake White gespeel.

Catrakilis (25) is tot einde vanjaar by die WP gekontrakteer, wat beteken dat Montpellier waarskynlik ’n oordragfooi sal moet betaal om hom uit die staanspoor in die Noordelike Halfrond-seisoen beskikbaar te hê.

Die Super-reeks eindig vanjaar reeds op 14 Julie omdat dit ’n Wêreldbeker-jaar is en daar gevolglik nie Junie-toetse gespeel word nie.

Vir die WP sal dit nie veel sin maak om in Catrakilis se pad te staan as hy in elk geval besluit het om nie ná vanjaar meer sy rugby in die Moederstad te speel nie.

Die WP het Robert du Preez ná verlede jaar se Varsitybeker-reeks gekontrakteer nadat hy vir die Maties geskitter het. Hy kan dus saam met Kurt Coleman die losskakel-fakkel vorentoe dra.

Intussen het Catrakilis ’n belangrike rol om vir die Stormers in vanjaar se Super-reeks te vervul. Sy goeie temperament, bestendigheid en vermoë om ’n slaagsyfer van bo 80% met sy skoppe pale toe te handhaaf, behoort van hom ’n waardevolle speler in ’n jong Stormers-span te maak.

Terwyl hy hoog aangeslaan word deur die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, is dit hoogs onwaarskynlik dat Catrakilis sommer Bok-rugby sal speel.

Handré Pollard en Patrick Lambie het verlede jaar baie goed gevaar as Bok-losskakels, terwyl Meyer waarskynlik ook vir Morné Steyn en Johan Goosen voor Catrakilis sal kies.

Dat Catrakilis egter in die Kaap gemis sal word wanneer hy later vanjaar sy tasse pak, is gewis so.

Die twee skepdoele – een met elke voet – waarmee hy 2012 se Curriebeker-eindstryd teen die Haaie in Durban beklink het, sal lank in die WP onthou word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.