SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Jake White lok nóg ’n SA speler
Jacobie Adriaanse

BLOEMFONTEIN. – ’n Elfde Suid-Afrikaner gaan hom by Jake­ White se Franse klubspan, Montpellier, aansluit.

Lees ook:

Leeu​s ewenaar beste veldtog

Moeilike taak wag ​op Haaie

Seabelo Senatla v​erdien dalk nou eers ’n ruskans

Bulle wil soos in 2​013 teen Blues wen

Joe Pietersen en Sarel Pretorius​ is dalk uit stryd

Die stut Jacobie Adriaanse sal van Junie vir Montpellier beskikbaar wees nadat hy sedert November 2012 in 51 wedstryde vir sy Walliese klubspan, die Llanelli Scarlets, rugby gespeel het.

Sy Scarlets-kontrak verstryk in Junie.

Die 29-jarige Adriaanse wat in Kaapstad gebore is, aan die Paarl Gimnasium gematrikuleer en by Maties gestudeer het, het nou net vir die duur van die Wêreldbeker-toernooi ’n kontrak met Montpellier gesluit.

“As ons (hy en sy gesin) dit geniet en die moontlikheid bestaan om (ná die Wêreldbeker) aan te bly (by Montpellier), sal ons dit beslis oorweeg,” het Adriaanse aan Volksblad gesê.

Adriaanse is die ouer broer van die Haaie se Bok-stut Lourens (27 jaar) en het voor sy Walliese draai spanne soos die Maties, die Westelike Provinsie, die Boland, Griekwas en die Leeus verteenwoordig.

“Sedert ons hier in Llanelli aangekom het, is ons dogtertjie Elné Adriaanse in Februarie 2015 gebore en ons almal sien baie uit na die nuwe uitdaging wat in Frankryk op ons wag.”

Adriaanse verbeur met sy skuif die moontlikheid om binnekort toetsrugby vir Wallis te speel, aangesien jy drie jaar in ’n land moet woon om te kwalifiseer.

“Wallis het goeie jong stutte wat deurkom en dit is ’n lekker geleentheid vir ons om by een van die voorste spanne in Frank­ryk en in die Top14-liga te speel,” het Jacobie gesê.

Hy is die derde Suid-Afrikaanse stut wat Montpellier gekontrakteer het. Die Bok Pat Cilliers dra reeds die Montpellier-trui, terwyl die Leeus-stut Schalk van der Merwe se skuif na Frankryk onlangs bevestig is.

White is die hoofafrigter en die gewese Kings-hulpafrigter Shaun Sowerby sy regterhand by Montpellier. Die senters Robert Ebersohn en Wynand Olivier is reeds ’n geruime tyd gewilde Montpellier-staatmakers.

Ander Suid-Afrikaners wat onlangs kontrakte met White-hulle gesluit het, is Demetri Catrakilis (Stormers, losskakel), Jacques du Plessis (Bulle, losvoorspeler/slot), Cameron Wright (Haaie, skrumskakel/losskakel) en Wiaan Liebenberg (Tukkies, losvoorspeler).

 White het vroeër twee van sy voormalige Brumbies-sterre, die skrumskakel Nic White en die heelagter Jesse Mogg, oorreed om kontrakte met Montpellier te sluit.

 Nog ’n Suid-Afrikaner, die gewese Kings-slot Joe Snyman, sal nie ná die huidige Walliese seisoen sy loopbaan by die Scarlets voortsit nie. Dit is nog onseker waarheen hy op pad is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.