Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Johan Wessels sluit hom ook by Griekwas aan
Johan Wessels | Foto: Getty Images
Hawies Fourie

BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaatse flank Johan Wessels is die soveelste speler wat hom by Griekwas in Kimberley aangemeld het in die hoop om later vanjaar vir die Poubloues Curriebeker-rugby te speel.

Die Griekwas-breier, Hawies Fourie, het aan Volksblad bevestig dat Wessels, wat nog onlangs vir die Vrystaat in die Vodacombeker-reeks in aksie was en ook voorheen in Frankryk gaan draai het, hom tot einde Oktober in die Diamantstad aangesluit het.

Dit volg nadat die heelagter Riaan Viljoen hom vanaf Japan by die Noord-Kapenaars aangemeld het en die Blou Bulle-flank Nardus van der Walt Pretoria vir die Groot Gat verruil het.

Lees ook:

Johan Goosen, K​iwi Kaap toe?

Reg of we​g vir Junior Bokke

WB '95: Spr​ankelrugby knak Samoane

Die Shimlas se kaptein en veelsydige agterspeler AJ Coertzen is ook tans vir ’n termyn van twee maande in Kimberley en die hoop bestaan dat hy tot minstens aan die einde van die huidige seisoen sy rugby daar sal speel.

“Johan is tot aan die einde van die seisoen by ons, nes Riaan Viljoen en Nardus van der Walt.

“AJ is tans net vir twee maande hier, want hy wil sien hoe sy studies by die Universiteit van die Vrystaat deur sy rugby hier geraak word.

“Ons hoop egter dat dit moontlik gaan wees om hom vir die volgende paar maande hier te kan hou,” het Fourie Dinsdag gesê.

Van der Walt, Coertzen en Viljoen is ook in die 22-tal wat na Oos-Londen reis vir Griekwas se eerste kwalifiserende Curriebeker-wedstryd Vrydag teen die Grens.

Wessels het hom egter Dinsdag eers in die Diamantstad aangemeld.

Fourie het intussen sy sterkste beskikbare span vir die Grens-kragmeting aangekondig.

Die woelige slot/flank Hilton Lobberts het nog nie van ’n langdurige kniebesering herstel nie, maar die slot Jonathan Adendorf het wel en is op die plaasvervangerbank ingesluit.

Goeie nuus is ook dat die slot Jaco Nepgen van sy harsingskudding herstel het en die eerste keer weer vir die Poubloues in aksie gaan wees.

“Ons is baie bevoorreg dat ons meeste van ons Superrugby-spelers teruggekry het. Ewald van der Westhuizen en Danie Mienie is nog by die Cheetahs, maar sal hulle eersdaags by ons aansluit.

“Dan het ons besluit om Francois Brummer en Tian Meyer nie net ons skakelpaar te maak nie, maar ook die gesamentlike kapteins vir nou en die Curriebeker-reeks.

“Hulle sal bepaalde rolle hê. Een sal byvoorbeeld met die spelers praat, terwyl die ander met die skeidsregter kommunikeer,” het Fourie gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.