Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kevin wil nes oom Allister se span maak
Sy oom se span het die Blou Bulle verlede naweek onder stof geloop en nou wil Kevin Luiters graag die OP-Kings help om die Bulle Saterdag ook pak te gee. Die 22-jarige skrumskakel se oom, die Westelike Provinsie se afrigter Allister Coetzee, was nog altyd vir hom ’n groot inspirasie.
Die voormalige Vrystater Kevin Luiters hoop om Saterdag ’n “element van verrassing” na die veld te bring wanneer die OP-Kings die Blou Bulle pak. Foto: Deon Ferreira

PORT ELIZABETH. – Sy oom se span het die Blou Bulle verlede naweek onder stof geloop en nou wil Kevin Luiters graag die OP-Kings help om die Bulle Saterdag ook pak te gee.

Die 22-jarige skrumskakel se oom, die Westelike Provinsie se afrigter Allister Coetzee, was nog altyd vir hom ’n groot inspirasie.

“My pa het my as jong seun gevat om te kyk hoe speel oom Allister rugby,” het Luiters dié week vertel.

“Later, toe ons van die Baai af Oos-Londen toe getrek het, was ek altyd opgewonde as ons vir Allister-hulle gaan kuier het.

“Ek het my altyd aan die rugbytruie en -baadjies in sy kas vergaap.”

Hy het Coetzee nooit regtig raad gevra nie, maar die voormalige hulpafrigter van die Springbokke het hom wel op ’n keer goeie raad gegee.

“Allister het vir my gesê ek moet altyd probeer om my rugby te geniet,” het Luiters vertel.

Hy het egter nie skrumskakel begin speel omdat Coetzee ’n skrumskakel was nie.

“Op laerskool (Stirling, in Oos-Londen) het ek oral in die agterlyn, behalwe skrumskakel, gespeel.

“Op ’n dag het ons skrumskakel egter sy kakebeen gebreek en die afrigter het my soontoe geskuif.

“Ek het dit soveel geniet dat ek begin huil het toe hy my later weer vleuel toe wou skuif.

“Hy het gesê hy het my vaart op vleuel nodig, maar ek het hom vertel ek is nie meer vinnig nie!”

Maar Luiters is inderdaad taamlik vinnig en dis juis sy breekslae om die vaste skrums en losgemale wat hom ’n gevaarlike skrumskakel maak.

Sy kritici kla soms dat hy geneig is om ’n tree of wat te hardloop voordat hy die bal uitgee.

“Ek werk aanhoudend aan my eie aangeë en skopwerk en probeer die hele tyd verbeter,” het Luiters, wat vroeër vanjaar nog vir die Vrystaat-Cheetahs gespeel het, gesê.

Hy kry ’n kans in die Kings se beginspan in die plek van Tobie Botes, wat met ’n seer voorarm sukkel.

* Die Kings se o.21-span speel vandag op die Sentrale-veld in Uitenhage teen Boland en die o.19-span teen die Vrystaat.

Die o.21’s se kragmeting begin om 19:00 en die o.19’s s’n om 17:00.

OP-Kings o.21’s: Selvyn Davids, Sergeal Petersen, Siphu Msutwana, Riaan Esterhuyzen, Aya Dlepu, Matthys Venter, Frans Ueckermann, Ivan-John du Preez, Stephan Zaayman, Siphesihle Punguzwa, Brendon Hector, Kevin Kaba (k), Mzu Sofisa, John Schmitt, Nic Roebuck. PLAASVERVANGERS: Tyrone Rankin, Enoch Mnyake, Claude Tshidibi, Frans Gerber, Sonwabo Majola, Warren Swarts, Jaco Bernardo.

OP-Kings o.19’s: Malcolm Jaer, Martin Keller, Jeremy Ward, Luan Nieuwoudt, Lindelwe Zungu, Jason Baggott, Kewan Gibb, Wynand Grassmann, Tyler Paul, CJ Velleman (k), Sintu Manjezi, Gerrit Huisamen, James Beyl, JP Jamieson, David Murray. PLAASVERVANGERS: Dyllon Domoney, Chris Whiting, Thembelihle Yase, Elandré van der Merwe, Mihlali Nchukana, Garrick Matheus, Vincent Moss, Dylan Vermaak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.