Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koch ‘sal mas opkom’
Vincent Koch draf volgende jaar vir die Stormers uit. Foto: gallo

Dit gaan uiteraard tyd neem vir Vincent Koch om sy voete by die Stormers te vind, maar hy sal die mas opkom.

Só het Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, gesê oor sy vaskopstut wat eersdaags vir die Kaapse Superrugby-span gaan uitdraf.

Koch (24) is vir die volgende twee seisoene in die Super-reeks vir die Stormers beskikbaar, terwyl hy steeds vir die Pumas in die Curriebeker-reeks gaan uitdraf.

Volgens Stonehouse het die Leeus aangedui hulle gaan hom nie gebruik nie en die Westelike Provinsie Rugbyunie het hom opgeraap.

“Dis ’n baie goeie geleentheid vir hom, veral in die lig dat daar so min vaskoppe in die land is. Jy krap nie om elke hoek of draai ’n vaskop uit nie,” het Stonehouse gesê.

Die Kaap is juis een van die plekke waar daar tans ’n tekort aan ervare vaskoppe is nadat die Springbok Pat Cilliers en die veteraan Brok Harris hul rugbyloopbane oorsee gaan voortsit.

Die Streeptruie moet dus steeds ’n gerekende vaskop vir volgende jaar se Curriebeker-reeks kry.

Met Koch wat sal terugkeer na die Pumas en Frans Malherbe, die WP se eerste keuse in dié posisie, wat waarskynlik by die Springbokke betrokke sal wees, sal die span net die Ju­nior Springbok Wilco Louw tot sy beskikking hê.

Koch het vanjaar eers van loskop na vaskop geskuif, maar het hom volgens Stonehouse goed van sy taak gekwyt.

Die Pumas-afrigter hoop ook hy kan volgende jaar met meer ervaring na die Mbombela-sta­dion terugkeer.

“Hoe meer spelers ervaring in Super-rugby opdoen, hoe beter is dit vir die Pumas.

“Dis ervaring wat jy nie kan koop nie. Ons is gretig om te sien wat hy volgende jaar sal terug­bring.

“Hy is ’n groot seun en ’n baie goeie baldraer, maar hy kan die bal ook goed versprei.

“Sy werketiek is hoog en hy verdedig uitstekend rondom losskrums.”

Koch kry waarskynlik al Sondag sy vuurdoop wanneer die WP teen Saracens in Londen speel. Hy en Louw is as die WP se vaskopstutte vir die toer gekies.

 Die WP-span word Vrydag aangewys.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.