Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeu verruil stewels vir fluitjie
Michael Bondesio | Foto's Gallo Images
Deon van Rensburg

Michael Bondesio se groot droom is om die Wêreldbeker omhoog te hou . . . as ’n afrigter.

En dié 29-jarige Leeu-skrumskakel, wat vandeesweek sy uittrede weens ’n rits beserings moes aankondig, meen hy het reeds die grondslag vir welslae gelê.

“Ek begin aanstaande jaar by die Hoërskool Linden (in Johannesburg) skoolhou.

“Dit wil voorkom as jy ’n onderwyser is, het jy ’n goeie kans om ’n internasionale span tot glorie te lei,” skerts Bondesio met verwysing na Graham Henry, Jake White en Eddie Jones – drie onderwysers wat die gesogte Webb Ellis-trofee as breiers verower het.

“Om af te rig, is nie iets wat ek ligtelik opneem nie. Oor die jare heen het ek baie van die spel geleer – en om dáái kennis aan ander spelers te kan oordra, is iets waarin ek baie belang stel,” sê Bondesio aan Rapport.

“Ek sal van onder af moet werk, want ek kan nou nie juis sê dat ek ’n groot naam in rugby het nie, maar ek’s darem nog jonk. Daar is tyd om myself te vestig.”

Liefhebbers van skouspelagtige rugby hoop seker die aanvallende ingesteldheid van Bondesio as speler spoel na Bondesio die afrigter oor . . . 

Op sy beste, is hy as een van die gevaarlikste plaaslike skrumskakels uit gebroke spel beskou.

“Ek wou my op veelsydigheid toespits. Dit is belangrik om jou taktiese bewussyn en skopskoen te ontwikkel, maar ek was nog altyd lief daarvoor om die lyn aan te val.

“Balans moet gehandhaaf word, maar ek geniet hardlooprugby,” sê Bondesio.

■ In dieselfde bootjie is sy 32-jarige spanmaat Deon van Rensburg.

Dié veelsydige agterspeler het pas ook besluit om sy stewels weg te bêre – nadat hy die afgelope ruk lank pal op die krukkelys was.

“My tyd by die Leeus was wonderlik,” sê dié Potchefstromer.

“Min ouens kan in hul loopbane sê hulle het ’n Curriebeker ver­ower. Ek moes egter ’n besluit neem. Ek kon aanhou probeer om tot die speelveld terug te keer, maar ek wil eendag nog saam met my kinders hardloop. Dis nie die moeite werd om met my gesondheid oor lang termyn te waag nie.”

Bondesio stem saam.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar jy bereik ’n punt waar die voortdurende klein terugslae jou begin kelder,” sê hy.

“Ek het geen verwyte nie, want ek het die voorreg gehad om vir ’n fantastiese span te speel.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.