Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker-stryd op Ellispark
Leeus ervaar ál meer druk
Warren Whiteley | Foto: Gallo Images

Warren Whiteley en sy Leeus-span sal Saterdagmiddag op Ellispark in Johannesburg in die Curriebeker-wedstryd teen die Kings wil voortbou op hul goeie vertoning ’n week vroeër op dieselfde veld teen die Bulle.

Om hulself later in die uitspeelrondes van die reeks in ’n goeie posisie te bevind, is dit vir Whiteley-hulle belangrik om soveel moontlik van die wedstryde op hul tuisveld te wen.

Omdat die wedstryd met die oog op die Springbokke se toets teen die Poemas in Pretoria vroeg (14:30) gespeel word, kan dit die Leeus dalk baat om die pas van die wedstryd van die begin af vinnig te maak.

Hier laatwinter is dit al klaar warm op die Hoëveld en die lug vuil en droog. Dit kan die besoekers van die ooskus in die tweede helfte na hul asem laat hyg as die wedstryd teen ’n vinnige pas gespeel word.

Daarom is dit belangrik dat Whiteley en sy Leeus – soos teen die Bulle verlede week – nie moet toelaat dat hul teenstanders die pas en die gang van die wedstryd bepaal nie.

Met hul oorwinning van 41-13 oor die Bulle, het die Leeus gewys hulle sal vanjaar in die Curriebeker-reeks ’n faktor wees om mee rekening te hou. Hulle het ook die soort rugby gespeel wat die Leeus-ondersteuners weer sal laat terugkeer Ellispark toe.

Die tuisspan moet hoop dat Jaco van der Walt (20), wat in die beseerde Springbok Marnitz Boshoff se plek as losskakel begin, sý stempel op die wedstryd sal afdruk.

Whiteley en Johan Ackermann, die Leeus-afrigter, het die versekering gegee hulle onderskat geensins die Oos-Kaapse span nie. Dis ’n span met heelwat spelers, soos onder andere Ronnie Cooke, Gary van Aswegen, Steven Sykes en Luke Watson (kaptein), wat al Super- én Curriebeker-rugby gespeel het.

Boonop het die besoekers se afrigter, Carlos Spencer, ’n vlymskerp-rugbybrein wat die Leeus, en Ellispark, goed ken.

Skeidsregter: Craig Joubert.

Assistent-skeidsregters: Francois Pretorius, Sieg van Staden.

TV-skeidsregter: Willie Vos.

 Wedstryd word nie op televisie uitgesaai nie.

Goue Leeus

Andries Coetzee; Lionel Mapoe, Stokkies Hanekom, Harold Vorster, Ruan Combrick, Jaco van der Walt, Ross Cronjé, Warren Whiteley (k), Derick Minnie, Jaco Kriel, Franco Mostert, MB Lusaseni, Ruan Dreyer, Robbie Coetzee, Schalk van der Merwe.

PLAASVERVANGERS: Armand van der Merwe, Jacques van Rooyen, Willie Britz, Warwick Tecklenburg, Guy Cronjé, Kwagga Smith, Howard Mnisi.

OP-Kings

Scott van Breda, Ronnie Cooke, Tim Whitehead, Shane Gates, Siviwe Soyizwapi, Gary van Aswegen, Tobie Botes, Luke Watson (k), Stefan Willemse, Thembelani Bholi, David Bulbring, Steven Cummins, Tom Botha, Edgar Marutlulle, Lizo Gqoboka.

PLAASVERVANGERS: Albè de Swardt, CJ van der Linde, Steven Sykes, Aidon Davis, Kevin Luiters, George Whitehead, Ntabeni Dukisa.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.