Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Adams, Watson brul hardste vir Britse Leeus

Daar moet nog heelwat rugby gespeel word voordat die Britse en Ierse Leeus die Springbokke in die eerste toets aandurf, maar Josh Adams het waarskynlik Saterdagaand op Ellispark naby daaraan gekom om sy plek te bespreek.

Hamish Watson (links) en Josh Adams van die Britse en Ierse Leeus vier ’n drie in Saterdagaand se wedstryd teen die Suid-Afrikaanse Leeus op Ellispark. Foto: Getty Images

“Hy ken die pad doellyn toe,” het Warren Gatland, die Britse Leeus se afrigter, gesê nadat die Walliese blits vier van die toerspan se agt drieë in hul oorwinning van 56-14 oor Suid-Afrika se Leeus op Ellispark in Johannesburg afgerond het.

“Ek hou aan sê dat jy nie kan ignoreer wat hy al bereik het nie. Hy was die voorste driedrukker by die Wêreldbekertoernooi (in 2019) en destyds in die Engelse Premierliga toe Worcester Warriors onder op die puntelys was. Dit spreek vanself.

“Sy tydsberekening vir wanneer hy by die lyn aansluit, is baie goed. Ons het dit gesien met die drie wat hy van ’n binneaangee af gedruk het. Hy het dit ook by ’n paar geleenthede by die WB-toernooi gedoen.”

Adams hoef nie Saterdagaand teen die Leeus te hard gewerk het vir al sy drieë nie en is deur die flank Hamish Watson getroef vir die amptelike prys van Speler van die Wedstryd.

Stuart Hogg, die Britse Leeus se kaptein op die aand, het Watson vir sy vertoning geloof.

“Dis asof iemand hom voor ’n wedstryd opwen en dan laat gaan. Hy hardloop teen ’n miljoen myl per uur en maak 20 miljoen duikslae,” oordryf Hogg om sy punt te maak.

“Dit is wat ons van die voorspelers wil hê. Ons wil hê die manne moet baie hard werk, wys wat dit beteken om daardie trui te dra en hul lywe op die spel plaas. Dit is al wat ons voor kan vra. As jy jou werk tot die beste van jou vermoë doen, gaan die ou langs jou dit ook doen, en sal jy jouself die beste moontlike kans gee om te wen.”

Josh Adams in aksie vir die Britse en Ierse Leeus in Saterdagaand se wedstryd teen die Suid-Afrikaanse Leeus. Hy het vier drieë gedruk. Foto: Getty Images

Hogg sê dit is vir hom veral opwindend dat die Leeus beter kan raak as wat hulle Saterdagaand was. “Ons kan individueel en gesamentlik verbeter, en dis ’n baie opwindende tyd om ’n deel van hierdie span te wees.”

Gatland was ook van mening dat daar nog baie is om aan te werk en hou ook in gedagte dat die opposisie nie sterk was nie. Trouens, hy hoop sy span word baie meer in die aanloop na die reeks teen die Bokke getoets as teen die Leeus.

“Ek sal nie vergeet dat ons in 2009 nie teen Suid-Afrika se toetsspelers in die opwarmwedstryde gespeel het nie. Ons was toe nie 100% gereed (vir die eerste toets) nie,” sê hy.

“Ons gaan in ons oefensessies baie hard moet werk en seker moet maak dat ons by die nodige tempo kan uitkom en om fisiek gereed te wees.

“Daar’s nie twyfel dat van die toerwedstryde, hopelik, ’n bietjie taaier gaan wees nie. Ons begryp egter ook dat die spanne sonder hul Springbokke is.”


Meer oor:  Leeus  |  Britse En Ierse Leeus  |  Ellispark  |  Josh Adams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.