Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Aki: De Allende ook ster van die veld af

Die Springbok-binnesenter Damian de Allende verdien nie net krediet vir die 50 toetse wat hy ná Saterdag se derde toets teen die Britse en Ierse Leeus op sy kerfstok sal hê nie, maar ook vir die mens wat hy is.

So sê sy regstreekse teenstander vir dié wedstryd, Bundee Aki. De Allende en Aki speel onderskeidelik vir die Ierse spanne Munster en Connacht.

Bundee Aki, binnesenter van die Britse en Ierse Leeus vir Saterdag se derde toets teen die Springbokke, maak litte los by die toerspan se oefensessie in Hermanus. Foto: Getty Images

“Ek kan Damian nie genoeg prys nie. Hy’s ook ’n goeie mens van die veld af,” sê Aki.

“Wat jy op die veld sien, hoe kwaad hy raak en hoe sterk hy is, is hy in dieselfde mate ’n vriendelike ou wanneer hy nie speel nie. Jy kan enige ou vra wat vir Munster speel. Conor (Murray, die Ierse skrumskakel wat vir Munster speel) praat met groot lof van hom.”

As ’n speler meen Aki dat De Allende eenvoudig van “wêreldgehalte” is.

Suid-Afrika het ná ’n hoër rat as ons in die tweede helfte oorgeskakel.

“Ek was gelukkig om teen Munster en ook toe ek my toetsbuiging (vir Ierland) gemaak het teen hom te kan speel. Hy’s een van daardie spelers en mense wat al alles vermag het en weet wat hulle doen,” sê hy.

Die 31-jarige Aki se buiging in 2017 – ’n wedstryd waarin Ierland die Bokke met 38-3 verneder het – was die enigste keer wat hy en De Allende tot dusver op toetsvlak teen mekaar gespeel het. Hy het wel verlede maand weer met De Allende paaie gekruis toe ’n Bok-span, vermom as Suid-Afrika A, die Leeus met 17-13 in Kaapstad geklop het.

Onvriendelik op die veld maar besonder vriendelik daarvan af. Dis hoe die Springbok-binnesenter Damian de Allende uit die Britse en Ierse Leeus se kamp deur Bundee Aki beskryf word. Foto: Getty Images

De Allende word deur die Leeus as ’n sleutelspeler vir die Springbokke beskou om hok te slaan, omdat hy só ’n sterk baldraer is en daardeur momentum kan skep.

Terwyl De Allende en Lukhanyo Am ’n kombinasie is wat die Bokke goed dien, is Aki en sy sentermaat Saterdag, Robbie Henshaw, ’n senterpaar wat met vrug deur Ierland aangewend word. Trouens, die Leeus se breier, Warren Gatland, het dalk misgetas deur hulle nie uit die staanspoor saam te kies nie.

Aki sê dis Saterdag ’n geval van “eindstryd-rugby” in die derde en beslissende toets.

“Ek het die tweede toets uit die paviljoen gekyk en gedink ons het ongelooflik goed gevaar in die eerste helfte, maar Suid-Afrika het ná ’n hoër rat as ons in die tweede helfte oorgeskakel. Die Bokke het hul oorwinning dubbel en dwars verdien,” sê hy.

Dit was die beste tyd van my lewe om deel van hierdie groep te wees. Dis ’n spesiale groep.

“Ons moet seker maak dat ons ook op ons beste is. Dis soos ’n eindstryd. Die wenner kry alles.”

Volgens Aki sal die Leeus aangedryf word deur die sterk vriendskapsbande wat op toer tussen hulle gesmee is.

“Dit was die beste tyd van my lewe om deel van hierdie groep te wees. Dis ’n spesiale groep. Jy sal net as jy naby aan ons is weet hoe goed ons met mekaar oor die weg kom,” sê hy.

“Ek weet nie hoe dit gebeur het dat ons só baie van mekaar hou wanneer ons (spelers uit Engeland, Ierland, Skotland en Wallis) onder gewone omstandighede teen mekaar speel nie.

“Daar’s net ’n paar dae oor om te wys hoe sterk die band (op die veld) tussen ons is. Ek’s seker dat die ouens hul beste gaan lewer wanneer ons daar uitkom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.