Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Tam Bokke sak sleg uit in tweede helfte

Springbok-ondersteuners wat vanoggend nog mor oor Hamish Watson wat nie ’n geel kaart gekry het vir ’n gevaarlike duikslag op Willie le Roux nie, kan hulle maar vetsmeer vir nog omstrede skeidsregters-beslissings in die toetsreeks.

Faf de Klerk lak vir Dan Biggar met Franco Mostert daar om bystand te bied. Foto: Gallo Images

Watson is met slegs ’n strafskop gestraf ná hy Le Roux, wat ’n bal briljant uit die lug gevang het, omgedop en in die grond gedryf het. Die Bokke kon egter nie munt uit die strafskop slaan nie, met Pollard wat die ver strafdoel-poging verbrou het. Le Roux is kort ná die duikslag met ’n besering van die veld.

Nog ’n voorval, toe ’n waarskynlike drie deur Le Roux nie toegeken is nie – dit, terwyl die TV-skeidsregter, Marius Jonker, nie genoeg getuienis kon vind om die skeidsregter, Nic Berry, se beslissing van ’n drie om te keer nie – het ook vir konsternasie gesorg.

’n Verbeterde poging met die bal in die hand én in die vaste fasette in die tweede helfte het die grondslag gelê vir die Britse en Ierse Leeus se oorwinning van 22-17 in die eerste toets in die Kaapstad-stadion.

Terwyl die Springbokke vuur en vlam in die eerste helfte was, veral met hul verdediging en hoe hulle veldgebied en besit beheer het, het hul toetsfiksheid hulle in die tweede 40 minute kom inhaal. Die besoekers het elke klein oorlog stelselmatig begin wen – in die skrums en met hul rolmaalbewegings.

Dit was juis die rolmaalbewegings wat die Bok-pak nie kon stuit nie. En gewoonlik is dit een van die sterkpunte van die Suid-Afrikaners. Gisteraand kon die Leeus egter met gereelde gemak strafskoppe ná ’n lynstaan melk, terwyl die tuisspan nie werklik ’n rolmaal van hul eie van stapel kon stuur nie. Selfs die Bokke se geroemde skrum, wat aanvanklik goed in die eerste helfte was, kon nie in die tweede helfte hul man staan nie.

Danksy die strafskoppe wat die Leeus met hul rolmale kon melk, het Dan Biggar, Leeus-losskakel, sy span in die tweede helfte stelselmatig laat opvang met die Bokke.

Voor die Leeus hul momentum begin kry het, het die Bokke egter nes die SA A-span aanvanklik goed gedoen om die toerspan se momentum in die eerste helfte te stuit.

Willie le Roux
Willie le Roux se “amper-drie” wat nie toegeken is nie omdat hy voor die skopper, Lukhanyo Am, was. Foto: Gallo Images

Die eerste ribkneuser-duikslag deur Lukhanyo Am, buitesenter van die Bokke, op sy Leeus-eweknie, Elliot Daly, het die pas gestel vir die Bokke se verdediging in die eerste 40 minute. Die buitesenter het reeds in die vierde minuut, met verskeie Leeus-spelers oor aan die buitekant, perfek uit die verdedigingslyn geskiet om Daly met die bal in die hand te betrap. Dit het die momentum van die Leeus in die kiem gesmoor.

Am se spanmaats het sy voorbeeld gevolg met onder meer die flank Pieter-Steph du Toit en slot Franco Mostert wat ’n paar harde duikslae gemaak het. Du Toit se duikslag op Ali Price, skrumskakel van die Leeus, het tot ’n strafskop gelei wat die telling 12-3 gemaak het.

Handré Pollard, in sy 50ste toets, het al vier sy strafskop-pogings in die eerste helfte deur die pale gejaag en hy was goed op dreef. In die tweede helfte het hy egter met al sy pogings pale toe misluk.

Pollard het, ten spyte van sy verbroude pogings, ’n goeie stryd beleef. Hy het baie keer die laaste vesting op lugskoppe beman en was uiters suksesvol met hoe hy die hoë skoppe uit die lug gepluk het.

Tog sal die Bokke hul dissipline moet opskerp.

Ná net meer as 60 minute se spel het die span 12 strafskoppe afgestaan, wat hulle duur te staan gekom het. Hoe hulle uit die bus geval het in die tweede helfte wat hul fisiekheid betref, is ’n aspek wat kommer wek voor Saterdag se tweede toets.

Dis duidelik dat verskeie spelers, waaronder die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en slot Lood de Jagter, nog minute in die bene nodig het voordat hulle daardie 80 minute-vertonings kan lewer.

Warren Gatland, Leeus-breier, se plan om die Bok-voorspelers te laat omdraai en hardloop met hope skoppe in die eerste helfte, het uitstekend gewerk. Terwyl die Springbokke goed teruggeval in die eerste helfte, kon die moeë bene die pas nie enduit volhou nie.

Meer oor:  Kaapstad  |  Eerste Toets  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.