Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bok-breier: Reinach is ‘Faf Lite’

Die Springbokke is altesame 90 toetse se ervaring kwyt met die ontydige beserings wat Pieter-Steph du Toit en Faf de Klerk opgedoen het.

Sou jy die hoofafrigter van die Bokke, Jacques Nienaber, kon vra watter spelers beseringsvry deur die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus moet gaan, sou dié duo se name gewis taamlik hoog op sy wenslys gewees het.

Nienaber het Dinsdag verras toe hy Cobus Reinach, wat nie in die eerste twee toetse in die Bokke se 23-tal was nie, bo Herschel Jantjies in De Klerk se plek vir Saterdag se deurslaggewende derde toets in die Kaapstad-stadion ingesluit het.

Die skrumskakel Cobus Reinach vervang Faf de Klerk in die Springbokspan vir die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Hy het verduidelik dat Reinach se spelstyl nader as dié van Jantjies aan De Klerk s’n is.

“Ons voel die spel wat ons speel, pas Cobus beter en hy is in terme van sy mondering en vaardighede ’n soortgelyke speler as Faf.

“Hy is ’n speler wat ons baie dieselfde sal bied, terwyl Herschel ons weer later die intensiteit van die bank af sal gee.

“Daar is natuurlik altyd sekere verskille tussen spelers en so ook met Faf en Cobus. Die een skop byvoorbeeld links en die ander een regs.”

Reinach het sedert 2014 net in 15 toetse gespeel, waarvan ses in die beginspan was.

Daar is baie druk op elkeen van ons. Ons beskou dit as ’n eindstryd wat ons moet wen.

Op 31-jarige ouderdom sal hy na alle waarskynlikheid nie in ’n groter toets as Saterdag se “reeks-eindstryd” speel nie.

“Daar is baie druk op elkeen van ons. Ons beskou dit as ’n eindstryd wat ons moet wen. Gelukkig het ons ervaring van sulke situasies waarin daar groot druk was en ons sal daarop kan terugval,” sê Reinach.

Die Leeus het self ’n verandering in die nr. 9-trui met Ali Price wat by Conor Murray in die beginspan oorneem.

Reinach sê dit is om’t ewe, omdat albei skrumskakels topspelers is.

“Ali is waarskynlik ’n vinniger skrumskakel, terwyl Conor weer rustigheid sal bring. Dit is tot ons voordeel dat daar so baie van ons spelers in die groep is wat in die Verenigde Koninkryk speel. Faf-hulle, wat vir die Sale Sharks speel, ken Tom Curry (die Leeus-flank) byvoorbeeld goed, en ek het saam met Courtney Lawes en Dan Biggar (vir die Northampton Saints) gespeel.

“Ongeag, ons doen ons huiswerk baie deeglik.”

Sy pa, wyle Jaco Reinach, sal onthou word vir die aanskoulike drieë wat hy as Bok-vleuel in die 1986-reeks teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gedruk het.

Gaan Reinach jr. vir sy aandeel in ’n reekssege oor die Leeus in 2021 onthou word?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.