Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bok-insluiting verrassing vir Marco

Die Bulle-flank Marco van Staden het Saterdag vir sy ouers in Magaliesburg gaan kuier en het die aand sonder verwagtinge saam met sy familie na die aankondiging van die Springbok-groep gekyk.

Hy is nie vooraf van sy insluiting in die groep vir die toetse teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus in kennis gestel nie.

Marco van Staden, flank van die Bulle, is teen die verwagtinge in beloon vir sy goeie vertonings vir die Bulle. Foto: Gallo Images

“Ek was baie dankbaar om my naam te hoor. Net om die groep te haal, is regtig ’n groot eer.

“Daar was groot vieringe. Dit was baie spesiaal om by my familie te wees. Elke keer wanneer ek vir my ouers gaan kuier, is dit kosbaar, want ek weet ek gaan binnekort oorsee (om vir die Leicester Tigers te gaan speel).”

Van Staden is nie onlangs na ’n Springbok-belyningskamp genooi nie, wat ’n aanduiding gegee het dat hy steeds nie in die nasionale prentjie is nie.

Ek is baie dankbaar vir die geleentheid, want dit is iets wat net elke 12 jaar gebeur.

Sy insluiting is – gegewe sy kragvertonings vir die Bulle sedert verlede seisoen – welverdiend.

“Dit is vir my altyd belangrik om te fokus op dit wat ek kan beheer. En dit is wat ek op die veld vir die Bulle gee.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid, want dit is iets wat net elke 12 jaar gebeur (om teen die Britse en Ierse Leeus te speel).

“Dit is my spanmaats wat die lof moet kry. Daar is ’n goeie kultuur hier en die ouens speel vir mekaar.

“Ons het voor verlede seisoen al begin om hard te werk en ons word nou daarvoor beloon. Ek kan beslis nie alleen die lof kry nie.”

Van Staden sê hy is ’n beter en meer afgeronde speler as die een wat in 2018 sy eerste toets vir Suid-Afrika gespeel het.

“Daar is altyd ruimte vir verbetering en ek dink ek het baie gegroei sedertdien. Ek glo ’n ou moet altyd kyk hoe jy ’n vaardigheid kan byvoeg of verbeter.

“Die spel verander ook altyd en jy is nooit die volledige pakket nie.”

Dit sal Saterdag in Durban Van Staden se laaste wedstryd in ’n Ligblou-trui wees wanneer die Bulle die Haaie in die Reënboogbeker-kompetisie pak.

Ek gee altyd 100%, maar ek gaan nie spesifiek daarop fokus om teen Siya te speel nie.

Die gedagte dat dit sonder die Bulle-kaptein, Duane Vermeulen, sal wees, is teleurstellend, gee hy toe.

“Dit is so, maar ons het gelukkig iemand soos Marcell Coetzee bygekry wat daardie rol kan oorvat. Dit is ook ’n voorreg om saam met hom te speel.”

En sy tweestryd met Siya Kolisi?

“Ek gee altyd 100%, maar ek gaan nie spesifiek daarop fokus om teen Siya te speel nie.

“Dit is nie waaroor dit gaan nie, want dit is ’n spanpoging.”

Die Bulle is oorgehaal om nie Saterdag weer ’n agterstand in te haal soos Vrydagaand in Pretoria teen die Stormers nie.

“Ons kan sterk eindig, maar ons kan ons nie altyd onder druk plaas om van agter af te kom nie.”

Meer oor:  Bokke  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Bulle  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus  |  Marco Van Staden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.