Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke: Angs oor spelers se beserings
’n Beseerde Duane Vermeulen word Vrydagaand van die veld af gehelp in die Bulle se wedstryd teen die Stormers. Foto: Gallo Images

Selfs al heers daar ernstige kommer oor Duane Vermeulen se beskikbaarheid vir die Springbokke se reeks teen die Britse en Ierse Leeus, gaan daar nie ’n versoek aan Suid-Afrika se franchise-spanne gerig word om ander spelers vandeesweek in nasionale belang te laat rus nie.

Vermeulen moes die veld in die eerste helfte van die Bulle se wedstryd teen die Stormers Vrydagaand met ’n enkelbesering verlaat.

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, was Saterdagaand met die bekendmaking van sy groep vir die reeks teen die Leeus pessimisties oor of Vermeulen betyds sal herstel, maar dit het hom en Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, nie genoop om stappe te doen wat die risiko van nóg beserings sal hokslaan nie.

“In teorie maak dit sin, maar dit sal baie onregverdig wees teenoor afrigters, spelers, franchise-spanne en hul borge,” sê Erasmus.

“Ek was as afrigter van die Stormers en Cheetahs al aan die ander kant. Afrigters is onder druk met prestasieklousules in hul kontrakte. Dis maklik om die versoek te rig, maar ons sal nie, want ons voel dit sal onregverdig wees.”

Die wenner van die Suid-Afrikaanse been van die Reënboogbeker-reeks word Saterdagaand bepaal wanneer die Haaie en Bulle op Kingspark kragte meet. Voor dit speel die Stormers gasheer vir die Leeus in die Kaapstad-stadion.

Al die spanne is gevra om spelers wat na Springbok-belyningskampe genooi is vir minstens een Reënboogbeker-wedstryd te laat rus. Erasmus wys ook daarop dat nie al daardie spelers dit eens tot in die groep van 46 vir die Leeus-reeks gemaak het nie.

“Jy kan jou indink dat ’n plaaslike afrigter wonder waarom hy ’n speler moes laat rus wat nie gekies is nie,” sê hy.

Uit die 46 spelers wat Erasmus en Nienaber gekies het, is 24 in Suid-Afrika gesetel.

Geeneen van hulle sal beskikbaar wees vir 19 Junie se eindstryd teen die wenner van die Pro14-afdeling in Treviso, Italië, nie.

Vier uit die vyf spelers van die Sale Sharks in die Bok-groep – Coenie Oosthuizen, die tweeling Dan en Jean-Luc du Preez, en die Bokke se voorkeur-skrumskakel, Faf de Klerk – gaan waarskynlik Saterdag teen die Exeter Chiefs in die Engelse Premierliga speel.

Die ander, Lood de Jager, is tans beseer en in ’n wedloop teen tyd gewikkel om fiks te wees vir die Leeus-reeks. Suid-Afrika is weens die beserings aan De Jager, RG Snyman, Salmaan Moerat en JD Schickerling dun op slot. Soveel so dat Montpellier se Nicolaas Janse van Rensburg opgeroep is, terwyl daar ook oor die losvoorspeler Rynhardt Elstadt as ’n moontlike slot gepraat word.

Nienaber hoop om die sterkste moontlike span te kies wanneer die Bokke die eerste twee naweke van Julie in opwarmtoetse teen Georgië speel.

Hy sal sover as moontlik hou by die span wat 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Jokohama gewen het.

Drie van die spelers wat Suid-Afrika in die WB-toernooi verteenwoordig het – Tendai Mtawarira, Francois Louw en Schalk Brits – het uitgetree. ’n Vierde, Warrick Gelant, is beseer.

“Jy sal dom wees om te sê dat die WB-spelers nou tweede of derde beste is,” sê Nienaber.

“As ’n ander ou deur sy spelpeil die deur oopskop en baie goed oefen, en die WB-speler geregtig in sy ingesteldheid raak, is daar nie ’n rede waarom ons nie die ywerige speler sal kies nie.

“Maar ek moet sê dat ek nie dink dat die WB-spelers wat ons gekies het ’n negatiewe ingesteldheid het nie. Hulle speel goed, werk hard, is betrokke by die belyningskampe en jy kan ’n verbetering sien nadat ons dinge uitwys waaraan hulle moet werk.”

’n Oefenkamp van drie weke word nou in Bloemfontein gehou en daar sal Maandag net ses spelers tot Nienaber se beskikking wees. Woensdag sal dit agt en Vrydag tien wees.

“Soos die spelers uit hul kompetisies en klubs beweeg, sal hulle reguit na ons toe kom. In die tweede week sal ons amper 30 spelers hê en in week drie miskien ’n bietjie meer,” sê hy.

“Vir die vierde en vyfde week, wanneer ons teen Georgië speel, sal ons in Johannesburg laer trek. In week ses is daar die SA A-span se wedstryd teen die Leeus, en dan in week sewe sal dit die aanloop tot die week vir die eerste toets teen die Leeus wees.”

SPRINGBOK-GROEP

Stutte: Thomas du Toit (Haaie), Steven Kitshoff (Stormers), Vincent Koch (Saracens), Frans Malherbe (Stormers), Ox Nché (Haaie), Trevor Nyakane (Bulle), Coenie Oosthuizen (Sale Sharks).

Hakers: Joseph Dweba (Bordeaux-Bègles), Malcolm Marx (Kubota Spears), Bongi Mbonambi (Stormers), Scarra Ntubeni (Stormers).

Slotte: Lood de Jager (Sale Sharks), Eben Etzebeth (Toulon), Nicolaas Janse van Rensburg (Montpellier), Franco Mostert (Honda Heat), Marvin Orie (Stormers), RG Snyman (Munster).

Losvoorspelers: Dan du Preez (Sale Sharks), Pieter-Steph du Toit (Stormers), Siya Kolisi (Haaie, kaptein), Kwagga Smith (Yamaha Júbilo), Marco van Staden (Bulle), Duane Vermeulen (Bulle), Jasper Wiese (Leicester Tigers).

Veelsydige voorspelers: Jean-Luc du Preez, Rynhardt Elstadt.

Skrumskakels: Faf de Klerk (Sale Sharks), Herschel Jantjies (Stormers), Sanele Nohamba (Haaie), Cobus Reinach (Montpellier).

Losskakels: Elton Jantjies (Pau), Handré Pollard (Montpellier), Morné Steyn (Bulle).

Senters: Lukhanyo Am (Haaie), Damian de Allende (Munster), Jesse Kriel (Canon Eagles), Wandisile Simelane (Leeus), Frans Steyn (Cheetahs).

Buiteagterspelers: Aphelele Fassi (Haaie), Cheslin Kolbe (Toulouse), Willie le Roux (Toyota Verblitz), Makazole Mapimpi (Haaie), Sbu Nkosi (Haaie), Yaw Penxe (Haaie), Rosko Specman (Cheetahs), Damian Willemse (Stormers).

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.