Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke fokus net op spel, niks anders
Die Springbok-breier, Jacques Nienaber, gee finale instruksies voor Saterdag se tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Regs staan sy kaptein, Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

Rassie Erasmus as direkteur van SA Rugby het iets op die hart gehad (met sy video) wat ons wel as ’n span bespreek het, maar die spelers het reeds besluit dat die sake van die veld af die Springbokke nie tussen die vier lyne gaan beïnvloed nie.

Só het die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, Saterdagaand geantwoord ná sy span die vloer met die Britse en Ierse Leeus gevee het en die tweede toets met 27-9 in Kaapstad beklink het.

Dit maak eerskomende Saterdag se derde toets die beslissende een ná die Leeus verlede naweek in die eerste kragmeting aan die wenkant was.

“As ’n span het ons geweet die fokus moes op die rugby op die veld wees, op dit wat ons daar kan beheer,” was Nienaber se antwoord op ’n vraag oor sy span se fokus vir die stryd ná wat in die week afgespeel het.

As ’n span het ons geweet die fokus moes op die rugby op die veld wees, op dit wat ons daar kan beheer/
Jacques Nienaber

“Ek haal my hoed af vir hoe die spelers reageer het. Daar was ’n behoorlike oorsig van die eerste toets, dit was ’n moeilike week vir ons die afgelope een. Ons was eerlik met mekaar tydens die oorsig, veral die afrigters.

“Laas week het ek verantwoordelikheid geneem (Nienaber het erken hy het Kwagga Smith dalk by die diepkant ingegooi).

“En dis hoe ons oorsig werk, dis nie net vir die spelers nie, maar vir die afrigters ook. Soms kry ons dinge reg, soms verkeerd. Maar ons steek ons hande op en sê ons het ’n fout begaan, dalk moet ons dinge anders gedoen het.

“Die ander dinge gebeur weg van die veld af en dit los ons vir ons direkteur van rugby (Erasmus). Ons fokus was op die veld.”

Genoeg is genoeg! Die Nieu-Seelandse skeidsregter Ben O’Keeffe wys ’n geel kaart vir die Leeus se Duhan van der Merwe (11).Foto: Jaco Marais

Terwyl die skeidsregter, Ben O’Keeffe, ’n puik stryd met die fluitjie beleef het, was daar ’n oomblik toe die Bok-vleuel Cheslin Kolbe die Leeus-skrumskakel, Conor Murray, in die lug gespeel het.

Kolbe is slegs met ’n geel kaart vir dié gevaarlike duikslag gestraf. In ander gevalle kon dit straks rooi gewees het.

Volgens Nienaber is hy tevrede met dié beslissing van die skeidsregter.

“Dit was die regte beslissing wat hulle gemaak het. Daar is ’n duidelike proses wat hulle volg met vuilspel. Dit is tot die letter gevolg.”

Siya Kolisi, Springbok-kaptein, het een van sy beste wedstryde sedert die Wêreldbeker-eindstryd beleef en was oral op die veld. Volgens hom het die Bokke, ná die eerste toets se loesing, meer voorbereid vir die Leeus-aanslag gevoel.

“Die gewilligheid van die spelers en hoe ons skoppe gejaag het, hoe ons die klein oorloë gewen het en oorheers het, dis wat ons volgende week gaan benodig. Ons is dankbaar daar is nog ’n geleentheid,” het Kolisi gesê.

“Maar volgende week (eerskomende Saterdag) maak dit nie saak hoeveel minute jy gespeel het nie, daardie stryd is die belangrike een.

“Niks gaan volgende week vir ons verander nie. Jy moet net dinge beter doen. By die vaste fasette moet ons meer besit wen en oorheersing kry in die skrums.

Niks gaan volgende week vir ons verander nie. Jy moet net dinge beter doen. By die vaste fasette moet ons meer besit wen en oorheersing kry in die skrums.
Siya Kolisi

“Ons gaan ook harder van die bal af moet werk. Wat natuurlik ook belangrik gaan wees, is wie se skopplan die beste gaan wees.

“Ons sal sien hoe die week verloop, maar nie baie gaan verander nie. Ek is egter oortuig ons afrigter sal ’n paar planne hê. Dit was ons kan beheer, sal ons probeer om vandeesweek beter te beheer.”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Kaptein  |  Afrigter  |  Rugby  |  Leeustoer  |  2De Toets  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.