Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Leeus kry doodskoot in 2de helfte
Die Bok-senter Lukhanyo Am sak toe op die bal vir sy drie ná ’n slim skoppie deur Faf de Klerk.Foto: Gallo Images

Die enigste toeskouers was die 200 of so mense wat hul dagtake daar verrig het, maar emosie het selde by ’n Springbok-toets in die moderne era al só dik in die lug gehang as Saterdag in die Kaapstad-stadion.

In ’n neutedop was dit oorlog tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus. Uiteindelik was dit die Springbokke wat dié epiese wedstryd ná ’n uitsonderlike tweede helfte met 27-9 gemaklik gewen het.

Die momentum is nou sterk in die tuisnasie se guns voor die beslissende derde toets volgende Saterdag, weer in die Moederstad.

Die humeure het dikwels opgevlam. Eben Etzabeth en Maro Itoje leer mekaar hier beter ken in Kaapstad.Foto: Jaco Marais
Genoeg is genoeg! Die Nieu-Seelandse skeidsregter Ben O’Keeffe wys ’n geel kaart vir die Leeus se Duhan van der Merwe (11).Foto: Jaco Marais

Die humeure het by tye oorgekook en die eerste helfte het meer as ’n uur lank geduur nadat daar ’n paar keer op die TV-skeidsregter, Marius Jonker, se nommer gedruk is om sondes en sondaars te ondersoek.

Ben O’Keeffe, die Nieu-Seelandse skeidsregter, moes ook ’n hele paar lesings oor geniepsige spel gee.

Duhan van der Merwe, aan Leeus-kant, en die Bok-blits Cheslin Kolbe is albei met geel kaarte gestraf.

Kolbe was dalk ’n bietjie gelukkig dat syne nie rooi was nie nadat hy in die lug met Conor Murray kontak gemaak het, maar die Bokke het ’n bietjie geluk verdien gegewe die swak beslissings wat in die eerste toets teen hulle gemaak is.

Dit het vroeg gelyk asof die Bokke dalk weer aan die kortste ent van beslissings gaan trek toe Van der Merwe enkele minute ná die afskop nie gestraf is nadat hy vir Pieter-Steph du Toit omgedop het nie.

Du Toit is in die proses beseer en moes die veld ná 20 minute verlaat.

Suid-Afrika was vinnig uit die wegspringblokke en het die Leeus van die afskop af onder druk geplaas. Die toerspan het sy lyn aanvanklik goed verdedig, maar ’n strafskop afgestaan wat Handré Pollard die kans gegee het om dit 3-0 te maak.

Verdediging het weerskante hoogty gevier en met die rustyd was dit 9-6 vir die Leeus – drie strafdoele deur Dan Biggar en twee deur Pollard (wat ook een verbrou het).

Gegewe hoe akkuraat albei spanne op die verdediging was, sou dit altyd ’n stukkie uitsonderlike spel verg om ’n drie op te lewer.

Gegewe hoe akkuraat albei spanne op die verdediging was, sou dit altyd ’n stukkie uitsonderlike spel verg om ’n drie op te lewer. Daardie speler was einste Pollard.

’n Mens het net mooi begin vrees dat die Bokke hulle dalk weer in ’n doodloopstraat bevind. Maar toe klief die losskakel die Leeus se verdediging met ’n skop-aangee na Mapimpi.

Dit was ’n briljante stukkie spel deur die wêreld se voorste nr. 10 en dis goed benut en afgerond deur die Bokke se linkervleuel.

Biggar het nie lank daarna nie ’n geleentheid gehad om die Leeus weer die voorsprong te gee, maar sy skop het die linker-regoppaal getref. Die Leeus het soos in die eerste toets gepoog om die Bokke met hangskoppe onder druk te plaas, maar hierdie keer was die Suid-Afrikaners opgewasse.

Makazole Mapimpi druk sy drie in Saterdagaand se toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Trouens, meer as opgewasse. En hulle het met die verloop van die tweede helfte al hoe sterker geword.

Die Leeus is deur nog ’n puik stukkie spel planke toe gestuur.

Hierdie keer was dit die woelige Faf de Klerk op skrumskakel wat die bal agter die verdedigingslinie gerolskop het, waar Lukhanyo Am kon gaan afrond.

Daar is onnodig lank tussen die wedstrydbeamptes beraadslaag of Am nie dalk beheer oor die bal verloor het nie, maar hy het uiteindelik die voordeel van die twyfel gekry.

Daarna is omtrent elke stryd in die kleine deur die Bokke gewen.

Elkeen van hulle was helde, maar ’n pluimpie gaan veral aan die kaptein, Siya Kolisi.

Nadat hy met amperse minagting deur die skeidsregter in die eerste toets, Nic Berry, behandel is, was hy ’n reus in die tweede.

Nadat hy met amperse minagting deur die skeidsregter in die eerste toets, Nic Berry, behandel is, was hy ’n reus in die tweede.

Hy het ’n yslike skof op die verdediging ingesit en met ’n stukkie briljante keerwerk verhoed dat Robbie Henshaw in die eerste helfte vir die Leeus gaan druk.

Dis ook altyd lekker om te sien hoe die Bokke se agttal teenstanders in ’n skrum verinneweer en hulle het juis daardie faset gebruik om die doodsdolk in die laaste kwart baie diep in te druk.

Teen die einde het die Bokke met die Leeus begin mors en Alun Wyn Jones en sy troepe was waarskynlik dankbaar vir die eindfluitjie nadat Pollard sy vyfde strafskop in die doodsnikke oor die mikke gesool het.

Puntemakers: Springbokke 27 (6): Drieë: Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard (5).

Britse en Ierse Leeus 9 (9): Strafdoele: Dan Biggar (3).

Meer oor:  Makazole Mapimpi  |  Lukhanyo Am  |  Faf De Klerk  |  Kaapstad  |  Springbokke  |  Leeustoer  |  Toets  |  Rugby  |  Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.