Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke hou asem op oor PSDT; ontbied Duane
Daar is kommer oor die skouerbesering wat Pieter-Steph du Toit Saterdag in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus opgedoen het. Foto: Gallo Images

Daar is min dinge wat Saterdagaand ’n demper sou plaas op die Springbokke se indrukwekkende sege oor die Britse en Ierse Leeus in die spanne se tweede toetswedstryd in Kaapstad.

Tog sou Jacques Nienaber, die Springbok-breier, effe bekommerd gewees het oor die ysterman-flank Pieter-Steph du Toit, wat die veld met ’n skouerbesering verlaat het.

Du Toit is in die 21ste minuut deur Kwagga Smith vervang nadat vroeg in die wedstryd hard op sy skouer te lande gekom het na ’n boorvat deur die Leeus-vleuel Duhan van der Merwe.

“Hy is nie iemand wat sommer van die veld af kom nie en ek het dit nog nie baie gesien nie.

Ons sal seker eers oor 48 uur ’n behoorlike diagnose oor die besering kry. Maar ja, hy is nie iemand wat vir niks die veld verlaat nie.
Jacques Nienaber

“Ons sal seker eers oor 48 uur ’n behoorlike diagnose oor die besering kry. Maar ja, hy is nie iemand wat vir niks die veld verlaat nie,” het Nienaber gesê.

Die Springbokke was tot dusver sonder die agtsteman Duane Vermeulen, wat op die herstelpad is ná ’n enkeloperasie, en dit sal ’n groot slag wees as nog ’n lid van die span se Wêreldbeker-lostrio nie oorweeg kan word vir die deurslaggewende derde toets nie.

Nienaber sal Smith, Marco van Staden of Franco Mostert as plaasvervangers vir Du Toit kan oorweeg.

Hoewel Van Staden nie ’n steelkant-flank is nie, is hy meer fisiek as Smith en die lostrio kan so geskommel word dat daar op agtsteman vir hom plek gemaak word.

Mostert het Saterdag flank toe geskuif toe Lood de Jager langs Eben Etzebeth op slot stelling ingeneem het.

Hy het ook in die verlede die nr. 7-trui vir die Leeus in die Superreeks gedra.

Mostert is beweeglik en hy kan, gegewe sy werkverrigting en deugde in die lynstane, ’n ideale plaasvervanger vir Du Toit wees.

Nienaber sal ook moet besluit of De Jager nie ’n plek in die beginspan verdien ná sy puik vertoning in die tweede helfte nie.

De Jager het nie gespeel soos iemand wat onlangs van ’n groot beenbesering herstel het nie en die Bokke het veral baat gevind by sy invloed in die lynstane.

Duane Vermeulen

Die skrumskakel Faf de Klerk het sy heup in die tweede helfte beseer, maar die verwagting is dat hy Maandag saam met die span sal kan oefen.

• Vermeulen het intussen Sondag in Kaapstad by die Bok-groep aangesluit.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in ’n verklaring gesê Vermeulen se rehabilitasie het so goed gevorder dat daar besluit is om hom te ontbied.

“Ons sal nooit waag met ’n speler wat nie 100% fiks is nie, maar hy is baie ervare en dit sal wonderlik wees om hom weer in die groep te hê,” het Nienaber oor Vermeulen gesê.

Jake White, afrigter van die Bulle, het Vrydagaand gesê Vermeulen het homself hard gedruk om beskikbaar te wees vir die derde toets, maar hy sal waarskynlik eers oor drie of vier weke weer kan speel.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Duane Vermeulen  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Suid-Afrika  |  Toetsreeks  |  Rugby  |  Kommer  |  Springbokke  |  Besering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.