Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke: Marcell Coetzee het nog hoop

Rassie Erasmus sê hy “vrees die ergste” ná Duane Vermeulen se enkelbesering. 

Marcell Coetzee kom Vrydagaand orent nadat hy teen die Stormers ’n drie gedruk het. Foto: Gallo Images

Die bielie-flank Marcell Coetzee is daarom op bystand as Vermeulen nie betyds vir die Springbokke se drie toetse teen die Britse en Ierse Leeus herstel nie. 

Selfs al herstel Vermeulen bestaan daar steeds ’n kans dat Erasmus en Bok-afrigter Jacques Nienaber kan besluit om iemand soos Coetzee te betrek om minstens in die SA A-span se kragmeting op 14 Julie teen die Britse Leeus te speel.

Coetzee is nie ingesluit in die groep van 46 wat gisteraand bekend gemaak is nie.

Erasmus het bevestig dat Coetzee wel op die Bokke se kortlys is. 

“Duane se besering is ’n groot bron van kommer vir ons . . . Ons gaan wel die groep dieselfde hou totdat ons presies die erns van sy besering bepaal het.”

Vermeulen het die speelveld Vrydagaand in Pretoria met ’n enkelbesering verlaat waar die Bulle die Stormers net-net geklop het. Vermeulen sal vandag of môre finaal weet of die enkel hom uit die toetsreeks teen die Leeus gaan hou. Die swelling moes eers sak voordat hulle gister die skanderings kon doen. 

Hy is beseer toe hy deur Pieter-Steph du Toit laaggevat is. 

Vermeulen het aan Rapport bevestig hy wag nog op terugvoering oor sy besering.

“Daar is nog niks nuus nie, ek wag nog,” het hy gesê.

Die 34-jarige Vermeulen is ’n deel van die Bok-ruggraat en het al 62 toetse op sy kerfstok, waarvan twee as kaptein. 

Duane Vermeulen Foto: Gallo Images

Daar hang boonop vraagtekens oor vier van die sterkste aanspraakmakers om hom te vervang: Coetzee, Dan du Preez, Jasper Wiese en Sikhumbuzo Not­she. 

Du Preez het in 2018 laas in ’n toets opgedraf, Coetzee voor 2019 se Wêreldbekertoernooi laas en Wiese hoop nog om sy toetsbuiging te maak. Notshe is beseer. 

Suid-Afrika het wel die keuse om Siya Kolisi na agtsteman te skuif, waar hy lanklaas gespeel het, of selfs om Kwagga Smith in te span. 

Die groep sluit die meeste van die Bokke in wat in 2019 se Wêreldbeker gespeel het. Warrick Gelant is weens ’n besering nie deel van die groep nie, terwyl Beast Mtawarira, Francois Louw en Schalk Brits uitgetree het.

Die agt nuwelinge in die groep is Joseph Dweba, Nicolaas Janse van Rensburg, Jasper Wiese, Sanele Nohamba, Wandisile Simelane, Yaw Penxe, Rosko Specman en Aphelele Fassi. 

Afgesien van Coetzee, tel Cornal Hendricks, Jaden Hendrikse, Ivan van Zyl, Willie Engelbrecht, Jan Serfontein, Akker van der Merwe en Curwin Bosch onder die ongelukkiges. 

Erasmus meen Hendricks en Coetzee kan nog betrek word. 

“Marcell het nege tot 12 weke nie gespeel nie. Hy het wel Vrydagaand goed gespeel.

“Marcell is beslis in die prentjie. Ons wil hom egter op sy beste en fiks sien. Ons kyk ook na die Rugbykampioenskap en daarna. Die reeks teen die Britse Leeus is in Suid-Afrika. 

“Ons kan in die geval van ’n besering iemand soos Curwin binne ’n dag betrek as hy negatief toets.

“Sommige spelers mag teleurgesteld wees dat hulle weggelaat is, maar daar is dalk ’n plan agter hul weglating dat hulle meer speelkans moet kry.”

Jean-Luc du Preez Foto: Gallo Images

Erasmus-hulle het 22 oorsese spelers gekies wat die Du Preez-broers, Jean-Luc en Dan, insluit. Hulle, Coenie Oosthuizen, Lood de Jager en Faf de Klerk is deel van die Sale Sharks-span wat uitstekend in die Engelse Premierliga vaar.

Jean-Luc en Rynhardt Elstadt is as veelsydige voorspelers gekies. Erasmus kan hulle dus as slotte oorweeg as De Jager en RG Snyman nie genoegsaam herstel nie. 

“Die oorsese spelers was in staat om gehalte-speeltyd in topklas-kompetisies teen spelers van wêreldgehalte, waarvan baie vir die Britse Leeus speel, op te stapel,” het Erasmus gesê. “Ek dink nie ons het by die Wêreldbeker so ’n goed gebalanseerde groep soos dié gehad nie. Die Du Preez-broers was nog altyd ongelukkig om nie gekies te word nie.

“Ons is dun op slot, of eerder nog onseker hoe Lood en RG se beserings reageer. As ons in die moeilikheid op slot is, kan selfs iemand soos Pieter-Steph du  Toit daar oorweeg word.”

Nog ’n besprekingspunt in die groep is die insluiting van die veterane Frans Steyn en Morné Steyn, wat die uitsonderlike prestasie kan behaal om twee keer in ’n reeks teen die Britse Leeus te speel. Hulle het ook in 2009 teen die Leeus gespeel. 

Die Bokke se aandag sal eers op die twee toetse teen Georgië, op 2 en 9 Julie, gerig wees voordat hulle aan die toetse teen die Britse Leeus dink. Nienaber-hulle wil hul sterkste span in minstens een van die toetse teen Georgië kies. 

Die meerderheid van die Bokke trek van môre af in Bloemfontein vir ’n oefenkamp van drie weke saam. Van die oorsese spelers sal hul eers later by die groep aansluit.

Die groep sal ná die wedstryd van die SA A-span verklein word.

Spelers in die Bok-groep sal moeilik vir die eindstryd van die Reënboogbeker in Italië vrygestel word.

Die Bokke se nuusverklaring het nie aangedui wie die Bok-kaptein is nie. Nienaber het egter bevestig dat “niks verander het nie en hy (Siya Kolisi) steeds die kaptein is”.

Aanspraakmakers soos JD Schickerling, Salmaan Moerat, en Lizo Gqoboka is weens beserings nie oorweeg nie. 

  • Die volle groep is: 
  • Stutte: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nché, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen. 
  • Hakers: Joseph Dweba, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni. 
  • Slotte: Lood de Jager, Eben Etzebeth, Nicolaas Janse van Rensburg, Franco Mostert, Marvin Orie, RG Snyman. 
  • Losvoorspelers: Dan du Preez, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Jasper Wiese. 
  • Veelsydige voorspelers: Jean-Luc du Preez, Rynhardt Elstadt. 
  • Skrumskakels: Faf de Klerk, Herschel Jantjies, Sanele Nohamba, Cobus Reinach. 
  • Losskakels: Elton Jantjies, Han­dré Pollard, Morné Steyn. 
  • Senters: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Jesse Kriel, Wandisile Simelane, Frans Steyn. 
  • Buite-agterspelers: Aphelele Fassi, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Yaw Penxe, Rosko Specman, Damian Willemse.

Meer oor:  Besering  |  Duane Vermeulen  |  Springbokke  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.