Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke sal nie blasers ‘manipuleer’
Die Springbokke sal nie poog om skeidsregters te manipuleer nie, sê hul afrigter, Jacques Nienaber. Foto: Gallo Images

Die Springbokke gaan hul huiswerk doen, maar die “manipulasie” van skeidsregters is nie deel van hul planne vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus nie, sê hul afrigter, Jacques Nienaber.

’n Sogenaamde “good cop bad cop”-taktiek in die interaksie met die Franse skeidsregter Jérôme Garcès, wat in 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan die Bokke se halfeindstryd teen Wallis en die eindstryd teen Engeland behartig het, het straks ’n belangrike rol in die verowering van die Webb Ellis-trofee gespeel.

Die strategie wat tóé gevolg is, was vir Siya Kolisi, die kaptein, om goeie betrekkinge met Garcès op die veld te handhaaf, terwyl Duane Vermeulen meer kritiese vrae oor van sy beslissings gestel het.

Maar daar’s nie manipulasie nie, sê Nienaber.

“Laat ek hierdie good cop bad cop-ding verduidelik,” het Nienaber vandeesweek op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“Ek’s ’n Afrikaanse ou van Bloemfontein en dis nie deel van my kultuur om gesag te bevraagteken nie. In ’n Engelse omgewing sal dinge meer bevraagteken word, maar by my was dit op ’n Sondag (as kind) ’n geval van ‘luister, jy’s hier om gesien en nie gehoor te word nie’. Daar was ’n hiërargie.

Dis vir ’n Afrikaanse ou vreemd om met ’n skeidsregter te praat, want hy’s in ’n gesagsposisie. Met good cop bad cop het ons ouens in rolle ingedeel. Jy’s soos ’n akteur.
Jacques Nienaber

“Dis vir ’n Afrikaanse ou vreemd om met ’n skeidsregter te praat, want hy’s in ’n gesagsposisie. Met good cop bad cop het ons ouens in rolle ingedeel. Jy’s soos ’n akteur.

“As dinge nie volgens plan verloop by die afbreekpunte nie, vra jy daaroor. Jy moet ’n oplossing vind. Dis wat ’n bad cop doen. Dis nie net vir interaksie met skeidsregters nie. Dis ook van toepassing op spelers. Die good cop sal ’n spanmaat byvoorbeeld aanmoedig wat iets goed doen.

“Mense mag dit dalk sien as ons wat poog om skeidsregters te manipuleer, maar dis glad nie die geval nie.”

Die Bokke het Jérôme Garcès se fluitjie saam met Wallis en Engeland se aanslae in 2019 se Wêreldbeker-toernooi in Japan getem. Foto: Getty Images

Dat Suid-Afrika egter by die Wêreldbeker-toernooi goed met skeidsregters gewerk het, is gewis so. Daar was negatiewe persepsies rakende Garcès se ingesteldheid jeens Suid-Afrika en dis ’n kwessie waaraan die Bokke aandag moes gee.

Behalwe vir Kolisi en Vermeulen se rolle, moes die hakers Bongi Mbonambi en Malcolm Marx toesien dat die Bokke by die vaste fasette in sy goeie boekies bly.

Profiele van skeidsregters is opgestel en in Garcès se geval was dit dat hy ’n “kunstenaarstipe” was – dat hy die beste besluit vir ’n spesifieke situasie neem eerder as om die reël te pedanties toe te pas. Sy profiel het uitgewys dat hy daarvan hou om as vriend benader te word, deur ’n lens van fisieke oorheersing na die vaste fasette kyk en daaraan herinner moet word indien die verdedigende span herhaaldelik strafskoppe in sy kwartgebied afstaan.

Of manipulasie op die agenda is al dan nie, sal die Bokke beslis hul huiswerk doen oor Nic Berry (Australië), Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland) en Mathieu Raynal (Frankryk), wat as skeidsregters vir die reeks teen die Leeus aangestel is.

Elke afrigter sal na tendense by skeidsregters kyk. Ons het nog nie daarmee begin nie, maar sal beslis. Soos Warren (Gatland, die Leeus se afrigter) en die Leeus ook sal doen.
Jacques Nienaber

“Elke afrigter sal na tendense by skeidsregters kyk. Ons het nog nie daarmee begin nie, maar sal beslis. Soos Warren (Gatland, die Leeus se afrigter) en die Leeus ook sal doen,” sê Nienaber.

“Rugby is ’n spel van kleiner stryde binne die groter kragmeting. Daar is seker 600 daarvan in ’n wedstryd en die skeidsregter moet oor elke een ’n oordeel vel. Dis waar die goud in rugby lê.”

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Jerome Garces  |  Suid-Afrika  |  Skeidsregter  |  Leeus  |  Springbokke  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.