Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
'Bokke se lugspel moet aandag kry'

Die Springbokke se dissipline en hul spel onder die hoë bal, veral in die tweede helfte teen die Britse en Ierse Leeus, is die twee plekke waar Jacques Nienaber, Bok-afrigter, sy span wil sien verbeter voor die tweede toets Saterdag in die Kaapstad-stadion

Saterdagaand het die Suid-Afrikaners se sukkel-vertoning in die tweede helfte hul ondergang bewerkstellig nadat hulle in die eerste helfte die Leeus se gal nog goed gewerk het. ’n Rustyd-voorsprong van 12-3 het uiteindelik verwelk met die toerspan wat die eerste toets met 22-17 danksy daai tweedehelfte-vertoning beklink het.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - JULY 24: springboks coac
Jacques Nienaber Foto: Gallo Images

“Die twee groot areas waar ons onsself teleurgestel het, waaraan ons moet werk, is ons dissipline en ons lugspel, veral in die tweede helfte. Ons was goed daarmee in die eerste helfte,” het Nienaber ná die toets gesê.

“Dit is die goed wat ons bietjie teleurgestel het. Gewoonlik is ons goed met hoe ons in die lug speel, maar hulle kon die oorhand daarmee kry en terug in ons halfgebied kom. Hulle het al hoe meer voordeel getrek daaruit. Ons sal daarna kyk en sien of daar definitief goed is in daardie opsig waaraan ons moet werk.”

Volgens Nienaber is hy nie teleurgestel met die impak wat die plaasvervangers gemaak het nie, maar dat sy span die toets met hul swak lugspel in die tweede helfte verloor het.

“Ons het in die eerste helfte gebaat uit die geskoppery, maar natuurlik in die tweede helfte het hulle ons oorheers in die lug. Dit het hulle veldgebied gegee en die voordeel vanuit gebroke spel en ons moes skarrel op die verdediging.”

Hy wou ook nie die skuld voor die deur van Covid-19 lê nie, al het baie van sy spelers in die tweede helfte uit stoom geraak en by tye met hul hande op hul knieë gestaan het.

“Ja, dit is welbekend dat ons nie baie rugby saam gespeel het nie. (Die Bokke het nog net een toets sedert 2019 se Wêreldbekertoernooi gespeel.) Dit sal ook naïef wees om te sê dat Covid-19 nie ’n impak op ons samespel gehad het nie

“Maar ek voel ook ons het goed in die eerste helfte gevaar wat ons samespel betref, so ons kan nie die Covid-situasie as ’n verskoning gebruik oor hoekom ons nie in die tweede helfte in die lug oorheers het nie. In die tweede helfte het ons twee of drie geleenthede gehad om te druk, ons het drie keer oor die doellyn gekom, maar twee keer is ons teruggebring, en dit was die regte beslissings.

“In een geval het daardie duim na ons kant toe gegaan en in twee gevalle het dit nie.”

Terwyl daar ’n paar omstrede beslissings uit die stryd deur die skeidsregter, Nic Berry, en sy TV-skeidsregter, Marius Jonker, was, het Nienaber en die Bok-kaptein, Siya Kolisi, nie oor die Australiër se vertoning gemor nie.

Albei was tevrede met hoe hy en sy assistente, Ben O’Keeffe en Mathieu Raynal, die eerste toets hanteer het. Veral die omstredenheid rondom die omdop-duikslag op Le Roux.

Tog glo Nienaber dat sy span nog kan red wat te redde is in die tweede toets, wat moontlike die beslissende een kan wees.

“Ja, ons kan dinge beslis nog red. Wel, ons moet dinge red. Natuurlik sal ons die stryd deeglik hersien en daar is beslis dinge wat ons kan uitsorteer. Soos Siya gesê het, ons kan ons rolmale uitsorteer en ons is vol vertroue dat ons ons spel in die lug ook reg kan maak. Dit het in die eerste helfte gewerk. So dinge kan reggemaak word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.