Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke speel All Black-breier aan die slaap

Die All Black-afrigter, Ian Foster, tel onder diegene wat meen die tweede toets tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus was maar ’n saai affêre.

“Ek het dit tussen 22:00 en 01:00 gekyk, en dit het my aan die slaap gemaak,” het Foster volgens RugbyPass op ’n nuuskonferensie in die opbou tot Saterdag se Bledisloebeker-toets teen die Wallabies gesê.

Ian Foster, die All Black-afrigter. Foto: Getty Images

“Die Leeus-reeks wat ons gehad het (in 2017) en die een wat nou daar gespeel word, het in naelbyt-reekse ontwikkel.

“Dis amper ’n risikovrye reeks, nie waar nie? Spanne is amper bang om te speel, so hulle maak staat op ’n laerisiko-strategie.

“Ons sien twee spanne wat desperaat is om ’n groot reeks te wen, wat laerisiko-, hoogs doeltreffende rugby speel.

“Albei spanne is goed in die nabye kontak, die loopgraaf-oorlogvoering, die skop-en-jaag en die drukspel. Dis twee spanne wat ’n soortgelyke styl speel, dit is ’n effense slugfest.”

Foster sê dit kom daarop neer dat die spanne versigtig is om mekaar se vinnige opskietverdediging aan te vat.

Die Bokke rolmaal die Britse en Ierse Leeus lam, met Lood de Jager wat die trein dryf en Eben Etzebeth, Kwagga Smith en Vincent Koch wat die vuur stook. Foto: Gallo Images

“Dit is toetsrugby waar daar baie op die spel is. Dit gaan oor risiko teenoor beloning, nie waar nie? Jy het twee spanne met vinnige lynspoed. Dit gaan daaroor om (die teenstander) te stuit.

“Ons is in die verlede gekritiseer dat ons nie rondom of deur lynspoed kan speel nie, maar wat jy sien is twee spanne wat ook nie daarvan hou om teen lynspoed te speel nie.

“So wat doen hulle? Hulle skop. Dit is die antwoord as jy nie bereid is om ’n meer riskante styl te speel nie. Almal kies ’n ander manier.”

Hy is ook uitgevra oor Rassie Erasmus, SA se direkteur van rugby, se optrede tydens die toetsreeks. Erasmus het eers opslae gemaak deur as waterdraer op te tree, iets waaroor die Leeus se breier, Warren Gatland, hom ook uitgelaat het.

“Wel, dalk sal ek Saterdag die water aandra. Dit lyk na ’n doeltreffende strategie,” skerts Foster.

“Kyk, hy is wie hy is, hulle het hul strategieë oor hoe hulle dinge benader, dit is beslis nie ons strategieë nie.”

Hy is ook gepols oor Erasmus se veelbesproke video waarin hy meer as 30 beslissings van die skeidsregter uit die eerste toets bevraagteken.

“Ons moet skeidsregters ondersteun, sonder twyfel. Ons kan ons probleme agter die skerms hê en dit is oukei, ons het al met tye so gevoel, ons het verlede jaar so gevoel, maar ons weet die blasers doen hul bes en dit is ’n moeilike taak,” sê Foster.

“Ons moet seker maak ons ondersteun die spel en doen die regte ding. Die media en mense wil hê ons moet ons menings lug, so dit gaan daaroor om die balans reg te kry tussen hoeveel jy sê en wat jy regtig dink, teenoor tot hoe ’n mate ons moet seker maak ons maak die spel nie onmoontlik om te blaas nie.” – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.