Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke staal hulle vir leë paviljoene

Die Springbok-bestuur het daarmee vrede gemaak dat daar dalk nie skares gaan wees om die span aan te moedig in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus nie, sê Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby.

“Ons berei voor asof ons sonder toeskouers gaan speel,” sê hy.

“Skares het ’n yslike effek in terme van die gevoel op die veld, jou tuisveldvoordeel en jou manier van kommunikeer. Daar’s net ’n ander gevoel daaromtrent.

Ondersteuning soos hierdie vir die tweede toets op Loftus Versfeld in 2009 gaan die Springbokke waarskynlik nie in vanjaar se reeks beskore wees nie. Foto: Getty Images

“Gelukkig het meeste van ons spelers dit nou ervaar – in die Premierliga (in Engeland) en in die Reënboogbeker-reeks en voorbereidingswedstryde.”

Saru hoop egter nog op ’n toegewing van die regering en baie gesprekke is al agter die skerms gevoer.

“Ons probeer regtig hard, maar wil ook hê dat die regering moet sien dat ons ernstig daaroor is om hul besluite toe te pas,” sê Erasmus.

“Hopelik sal die regering raaksien dat ons betroubaar is deur by die riglyne te hou ... selfs al is dit net 25% (van stadions se kapasiteit). As daardie groot stadions kwartvol is, is dit steeds ’n groot skare.

“Ons is egter op die ergste voorbereid – dat daar nie skares gaan wees nie.”

Erasmus sê hy was in ’n vergadering waar Saru hul saak gestel het, maar weet nie hoe goed die kanse is dat die regering ’n toegewing sal maak nie.

Selfs noudat daar gespeel word en Suid-Afrikaanse rugby weer op uitsaai-inkomste kan staatmaak, bly die spel onder groot ekonomiese druk. Die verlies aan hekinkomste skep vir Saru en die provinsiale unies ernstige probleme met kontantvloei.

Jacques Nienaber (links), Springbok-afrigter, en Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, gesels Vrydag aanlyn met die media. Foto: Gallo Images

Jacques Nienaber, die Bokke se afrigter, het ook bevestig dat die Bokke in soortgelyke bioborrels as dié van die Leeus gaan wees.

Om die risiko vir die oordrag van die koronavirus te beperk, gaan die Leeus slegs in Johannesburg en Kaapstad speel. Hul toer sal begin met drie wedstryde in Johannesburg en daarna is dit Kaapstad vir nóg drie, insluitend die eerste toets. Daarna keer hulle terug vir die tweede en derde toetse in die FNB-stadion.

Plaaslike spanne wat teen die Leeus gaan speel, sal vooraf vir tien dae in bioborrels moet wees.

Volgens Erasmus sal spelers aan weerskante teen Covid-19 ingeënt wees.

Ongeag of toeskouers toegelaat sal word, al dan nie, meen Erasmus ’n Leeus-reeks bly ’n uiters spesiale gebeurtenis. Hy self het in 1997 sy toetsbuiging in die derde toets teen die Leeus op Ellispark gemaak.

“Ek het op die dag van my buiging dit nie soveel as nou begryp nie. Dis ’n seldsame ding, wat spesiaal is,” sê hy.

“Baie dinge in rugby is nie meer spesiaal nie. Jy kan soveel rugby oor ’n naweek kyk dat jy nie eens meer onderskeid tussen die kompetisies tref nie.

“Wat die Leeus betref, weet almal hulle gaan speel, wat die afskoptyd is, teen wie, waar en wanneer.

“Selfs al is daar nie skares nie, bly ons gelukkig om daardie ouens hier te hê. Ons wil nie die geleentheid misloop nie. Vir my sal dit regtig iets spesiaals wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.