Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke van oral trek saam in Bloem
’n Handvol Springbokke trek reeds in Bloemfontein saam vir die reeks teen die Britse Leeus. Hier is Malcolm Marx, Frans Steyn en Franco Mostert aan die oefen op Shimlapark. Foto: Springbokke

Nadat hulle 18 maande gelede die Wêreldbeker in Japan gewen het, trek die Springbokke vir die eerste keer uit alle wêrelddele in Bloemfontein saam.

Die Springbokgroep van 46 spelers reis uit Engeland, Ierland, Frankryk, Japan én oral in Suid-Afrika na die Vrystaat om hier vir die toetsreeks teen die Britse Leeus voor te berei.

Bloemfontein is die gewese tuiste van Rassie Erasmus, wat vir die Cheetahs uitgedraf het en die afrigter was, en Jacques Nienaber, nuwe afrigter, wat ’n oudleerling van Grey-kollege is en ook die Cheetahs se fisioterapeut en kondisioneringsafrigter was.

Rampspoed het Nienaber se span op die dag van die saamtrek getref toe Damian de Allende en RG Snyman, twee Bokke wat vir Munster in Ierland speel, brandwonde in ’n “vuurput-ongeluk” opgedoen het.

Supersport.com berig ’n Munster-speler het petrol op die vuur gegooi en dit het daartoe gelei dat die Bok-spelers gebrand het.

Munster het in ’n verklaring gesê vier spelers is in die voorval beseer. Dit sluit die Suid-Afrikaans gebore CJ Stander en Mike Haley in.

Stander en Haley kan weer oefen, maar De Allende en Snyman het “beduidende brandwonde aan hul bene, hande en gesigte opgedoen”. Sien volledige berig in Sport24.

Beserings laat juis ’n skaduwee oor die Springbokke se eerste saamtrek sedert hulle die Wêreldbeker in 2019 gewen het.

Duanne Vermeulen, agsteman en sleutelspeler, het ’n ernstige besering die naweek teen die Stormers opgedoen.

Sy besering het daartoe gelei dat Jasper Wiese, ’n plaaslike seun wat groot naam in Engeland gemaak het, ’n tree nader aan die beginspan is. Wiese, ’n boerseun van die Kalahari, het vir die Leicester Tigers uitgeblink.

Willie le Roux, nóg ’n oud-Cheetah wat deesdae in Japan naam maak, was een van die eerste spelers wat in sy ou tuisstad aangekom het. Le Roux, wat vir Toyota Verblitz speel, is vanjaar ingesluit in die Japannese droomspan ná die afhandeling van die plaaslike liga.

Malcolm Marx oefen sy ingooie Dinsdag op Shimlapark. Foto: Springbokke

Hy en Frans Steyn, wat deesdae vir die Cheetahs uitdraf, was saam met die Bokke se Japanse spelers soos Jesse Kriel (Canon Eagles), Malcolm Marx (Kubota Spears), Kwagga Smith en Franco Mostert (Honda Heat) van die eerste spelers wat Dinsdag op Shimlapark gaan litte losmaak het.

Steyn het reeds twee Wêreldbeker-oorwinnings agter die blad en was in die Springbokspan wat die Britse Leeus geklop het. Hy sal dit graag twee keer wil vermag.

“Daar is geen bloed en trane nie, maar baie sweet en glimlagte toe ’n groep spelers vir die Castle Lion-reeks in Bloemfontein saamgetrek het,” het die Springbokke op hul amptelike Twitter-rekening gesê met foto’s van die spelers wat oefen.

Kwagga Smith, wat vir die Japannese span Yamaha Júbilo speel, het Suid-Afrikaners se steun vir die reeks in ’n videoboodskap gevra.

Die Springbokspan sê die span se spelers wat in Frankryk speel, sal eersdaags hulle by groep in Bloemfontein aanmeld.

Die Springbokke speel op 2 en 9 Julie teen Georgië in opwarmingswedstryde voor die Britse Leeus. Die toetse teen die Leeus is op 24 en 31 Julie en 7 Augustus. Die SA A-span speel op 14 Julie teen die Britse Leeus.

Jesse Kriel en Willie le Roux was onder die Springbokke wat in Japan rugby speel wat eerste in Bloemfontein was om voor te berei vir die toetsreeks teen die Britse Leeus. Willie le Roux is terug in sy eertydse tuisstad waar hy lank vir die Cheetahs gespeel het.Foto: Springbokke

Meer oor:  Springbokke  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.