Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Bokke: ‘Voorry-besluit nie vooraf geneem’

Was die Springbokke Saterdag in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus aan die wenkant, sou daar nie vrae gewees het oor die besluit om teen rustyd die hele Bok-voorry te vervang nie.

Ná die Leeus die toets met 22-17 gewen het om met 1-0 voor te loop in die toetsreeks, word dit egter as ’n oordeelsfout bestempel.

Die Springbok-stut Steven Kitshoff sê dié span weet hoe om ná ’n terugslag op te staan. Foto: Gallo Images

Die begin-voorry van Ox Nche, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane het goed anker gegooi en het die Leeus op meer as een geleentheid in die skrums onder druk gehad.

Daar is verwag dat die vars voorry, Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe, die Leeus, soos twee jaar gelede in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland, ná rustyd in dié vaste faset sou opdons. Dit het nooit gebeur nie.

Deon Davids, voorspeler-afrigter van die Springbokke, sê daar is nie noodwendig vooraf besluit dat die hele begin-voorry teen rustyd vervang sal word nie.

“Ox, Bongi en Trevor se vertoning was uitstaande in die eerste helfte. Met rustyd het Ox aangedui hy het sy nek beseer en Bongi het las van ’n seer dyspier gehad. Met dit in gedagte, het die afrigtingspan ’n besluit geneem oor wat die beste vir die span sal wees.”

Davids sê dit is jammer dat die Leeus daarin geslaag het om die Bokke se sterk punte in die agttal te neutraliseer.

Dit was duidelik die besoekers se taktiek om nie die bal uit te skop nie, en die Springbokke het in die proses net vier keer die bal by ’n lynstaan ingegooi.

“Hulle was takties slim, maar ons kon ook ons besit beter gebruik het.”

Die Suid-Afrikaanse A-span se twee wedstryde (teen die Leeus en die Bulle) en die Bokke se vertoning Saterdag toon een ongewenste tendens: In al drie wedstryde is die tweede helfte verloor.

Vanselfsprekend is daar vrae oor Suid-Afrika se fiksheid en kondisionering.

“Nie om dit as ’n verskoning voor te hou nie, maar as jy gaan kyk na die tyd wat ons spelers gespeel het en hoeveel wedstryde ons gehad het om vir die toets voor te berei en jy vergelyk dit met die Leeus, moet ons spelers eintlik ’n klop op die skouer kry.

“Die wyse waarop ons spelers in ’n intense en fisieke toets rekenskap van hulself gegee het, is positief.

“Ons kan wel slimmer speel en die besluitneming kan beter wees sodat ons meer kanse kan skep.”

Kitshoff sê daar is ’n “soortgelyke gevoel” in die groep as toe die Bokke in 2019 hul eerste Wêreldbeker-wedstryd teen die All Blacks verloor het.

“As jy daaraan dink, het ons met vyf punte verloor in ’n wedstryd waar daar nie veel geluk aan ons kant was nie en ons in sekere afdelings gesukkel het.

“In die lewe is sewe dae ’n kort tyd, maar in rugby is dit lank. Daar is tyd om aandag te gee aan dit wat reggestel moet word.

“Daar is ’n goeie gees in die span en ons weet hoe om van die grond af op te staan en terug te veg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.