Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Britse Leeus wen op ’n drafstap

Vir ’n beter begin as dié kon Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, beswaarlik gevra het.

Die Wallieser Josh Adams het ’n droombegin aan die Britse en Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika gehad, met vier drieë teen Johannesburg se Leeus. Foto: Getty Images

Sy span het Suid-Afrika se Leeus nie net gemaklik geklop nie, maar sommer behoorlik op Ellispark afgeransel. Die besoekers het agt drieë – vier daarvan deur die vleuel Josh Adams – gedruk in hul oorwinning van 56-14.

Het die besoekers meer berekende rugby gespeel kon die telbord straks slegter gelyk het vir die tuisspan, maar dit het vir die Britse Leeus duidelik meer daaroor gegaan om goeie samespel met die bal in die hand te vestig. Dit het soms daartoe gelei dat hulle van diep in hul eie gebied gehardloop het. Die teenstand was egter van só ’n aard dat daardie besluite nie in hul gesigte ontplof het nie.

Die Leeus verdien wel krediet vir hul spel in die eerste helfte. Hulle was ná sewe minute reeds met 0-14 agter, maar het daarna deur sterk voorspelerspel vasgeskop.

Francke Horn, hul agtsteman, het x-faktor gewys met ’n skeppende hand in Vincent Tshituka en Rabz Maxwane se drieë.

Maar wat die besoekers betref was dit ’n geval van hoe later hoe kwater. Ná ’n uur het die blitsige tempo waarteen hulle gespeel het ’n tol op die Leeus geëis en het die drieë al hoe makliker gekom.

Daar was heelwat uitblinkers onder die toerspan wat vir Gatland stof tot nadenke sou gegee het.

Stuart Hogg, die heelagter en kaptein, was baie skerp op die aanval en die losskakel, Finn Russell, het die toutjies slim getrek.

Voorlangs het Maro Itoje weereens herinner waarom hy as een van die voorste slotte in wêreldrugby gereken word. Hy het hom in die lynstane laat geld en het oral op die veld opgeduik.

Die senterpaar van Owen Farrell en Chris Harris het ook goed gevaar en dit gaan interessant wees wanneer Gatland hulle teen die Iere Bundee Aki en Robbie Henshaw opweeg.

Farell het soos gewoonlik ook goed geskop en al agt die Leeus se drieë verdoel.

• Puntemakers:

Britse en Ierse Leeus 56 (21): Drieë: Louis Rees-Zammit, Hamish Watson, Ali Price, Josh Adams (4), Gareth Davies. Doelskoppe: Owen Farrell (8).

Leeus 14 (7): Drieë: Vincent Tshituka, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (2).

Meer oor:  Leeus  |  Britse En Ierse Leeus  |  Ellispark  |  Josh Adams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.