Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Britse Leeus wil vroeg reeds hoë standaard stel
Stuart Hogg is as die Britse en Ierse Leeus se kaptein aangewys vir Saterdag se wedstryd teen die Leeus op Ellispark. Foto: Getty Images

Die Britse en Ierse Leeus hoop om reeds in Saterdag se wedstryd op Ellispark teen Suid-Afrika se Leeus ’n “standaard te stel” vir die res van hul toer, sê hul kaptein, Stuart Hogg.

“Ons het ’n goeie aanloop gehad en baie gepraat oor ons behoefte om vroeg reeds ’n standaard te stel en die toer op die beste moontlike manier te begin. Dit kom daarop neer dat ons Saterdagaand alles reg moet doen,” het hy Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê.

Hogg, wat Skotland se nasionale span aanvoer, was op dieselfde dag dat die Britse en Ierse Leeus hul opwarmwedstryd teen Japan in Edinburg gespeel het, ’n plaasvervanger vir sy Engelse klub, die Exeter Chiefs, in die Premierliga-eindstryd teen Harlequins.

Hy kon maar min saamoefen voor die Britse Leeus se eerste toerwedstryd, maar was genoeg op die oefenveld om te besef hoeveel verder die bal op die Hoëveld trek.

“Ek het Dinsdag ’n paar skoppe ingekry en daar’s ’n groot verskil, wat opwindend is. Ons moet in die regte areas speel en die bal agter hulle kry, maar ons sal met die bal in die hand lostrek as die geleentheid daar is,” sê Hogg.

“Ek is net bly om weer te kan speel. Dis ’n paar weke sedert ek ’n wedstryd begin het en ’n heel ander omgewing hier by die Leeus.”

Op ’n vraag uit watter van sy voorgangers hy sy inspirasie sal put, het Hogg onmiddellik na die kaptein van 1997 se seëvierende span, Martin Johnson, verwys.

Ek het die rolprent van 1997 se toer seker ’n miljoen keer gekyk en kan 90% onthou van wat Martin Johnson gesê het. Ek was gek daaroor.
Stuart Hogg

“Ek het die rolprent van 1997 se toer seker ’n miljoen keer gekyk en kan 90% onthou van wat Martin Johnson gesê het. Ek was gek daaroor,” sê hy.

“Kapteinskap moenie jou spel beïnvloed nie. Jy moet jou eie man wees en ek was nog nooit die soort wat staan en skree en baasspelerig is nie.

Die vurige Engelse slot Maro Itoje.

“Ek wil lei deur hoe ek speel en ek’s baie gelukkig dat daar puik leiers soos Owen Farrell, Maro Itoje en Jamie George om my gaan wees.”

Ondanks die feit dat die Britse Leeus van wêreldrugby se groot name Ellispark toe neem, verwag hul afrigter, Warren Gatland, nie dat dit eenrigtingverkeer gaan wees nie.

“Ons het die (plaaslike) Leeus bestudeer. Hulle is voorlangs sterk en die eerste wedstryd op ’n toer is altyd ’n moeilike een om ons ritme te vind,” sê Gatland.

“Die Leeus is die span wat die minste geraak is deur Springbok-verpligtinge. Vir baie van hul spelers is dit ook ’n geleentheid wat net een keer in hul loopbane gaan kom om teen die Britse Leeus te speel. Hulle gaan ongelooflik gemotiveerd wees om goed te speel.

“Ja, daar sal nie toeskouers wees nie, maar dit gaan niks verander aan hul begeerte om die eerste span te wees wat die Britse Leeus op hierdie toer klop nie.”

Met die uitsondering van die vleuel Josh Adams het Gatland in elke posisie ’n verandering gemaak aan die span wat Japan geklop het.

Ons wil vir almal ’n geleentheid gee en in die proses ook goed speel en momentum bou.
Warren Gatland

“Ons wil vir almal ’n geleentheid gee en in die proses ook goed speel en momentum bou, sodat ons selfvertroue kan vestig. Terselfdertyd wil ons ook kombinasies op die proef stel en vestig,” sê Gatland.

Britse en Ierse Leeus:

Stuart Hogg, Louis Rees-Zammit, Chris Harris, Owen Farrell, Josh Adams, Finn Russell, Ali Price, Taulupe Faletau, Hamish Watson, Courtney Lawes, Jonny Hill, Maro Itoje, Kyle Sinckler, Jamie George, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola, Zander Fagerson, Iain Henderson, Sam Simmonds, Gareth Davies, Bundee Aki, Elliot Daly.


Meer oor:  Maro Itoje  |  Stuart Hogg  |  Johannesburg  |  Leeus  |  Britse En Ierse Leeus-Toer  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.