Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Britse Leeus ‘woedend’ oor SA TV-beampte

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, is glo “woedend” nadat hy op die nippertjie ingelig is Suid-Afrika se Marius Jonker is as die televisieskeidsregter vir Saterdag se eerste toets teen die Springbokke aangestel.

Suid-Afrika se Marius Jonker is as die televisieskeidsregter vir die naweek se eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus aangestel. Foto: Getty Images

BBCSport berig die Nieu-Seelandse skeidsregter Brendon Pickerill sou dié taak behartig het, maar Covid-19-reisbeperkings het ’n stokkie voor sy deelname gesteek.

Gatland is volgens die Britse media “ontsteld” dat ’n neutrale alternatief nie gereël kan word nie en “woedend” dat hy eers Donderdag oor die verandering van beamptes in kennis gestel is.

Die Leeus se afrigter was verlede week krapperig omdat Jonker, na sy mening, moes aanbeveel het dat Faf de Klerk ’n rooi kaart moes gekry het vir ’n ongeoorloofde duikslag in die wedstryd tussen Suid-Afrika A en die Leeus.

Jonker en die skeidsregter op die veld vir daardie wedstryd, Jaco Peyper, het egter saamgestem dat dit net met ’n geel kaart gestraf moet word.

Nic Berry van Australië is die skeidsregter vir die eerste toets, met die Nieu-Seelander Ben O’Keeffe en die Fransman Mathieu Raynal as sy assistente.

Daar heers ook glo steeds kommer oor die vooruitsig dat Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, sal voortgaan in sy rol as waterdraer in die toetse.

s
Rassie Erasmus Foto: Getty Images

Gatland het die afgelope twee weke ’n paar dinge te sê gehad oor Erasmus wat sy lyf waterdraer gehou het in die SA A-span se oorwinning oor die Leeus, toe Erasmus in dié gewaad boodskappe aan die spelers oorgedra het tydens hul kragmeting.

Volgens die Britse media is Wêreldrugby nie van plan om Erasmus te verhoed om as waterdraer op te tree nie, maar Berry is glo aangesê om Erasmus te monitor en dat enige regte waterdraers wel die water op die veld neem.

Alain Rolland, Wêreldrugby se voormalige hoof van skeidsregters en ’n voormalige toetsblaser, het in ’n onderhoud met die Daily Mail gesê hy voel Erasmus moenie toegelaat word om as waterdraer op te tree nie en dat die Springbokke ’n skuiwergat uitbuit.

Ingevolge Wêreldrugby se reëls mag hoofafrigters nie tydens wedstryde in die “tegniese gebied” langs die veld stelling inneem nie. Jacques Nienaber is die Bokke se hoofafrigter, wat beteken dis nie teen die reëls vir Erasmus om as waterdraer ingespan te word nie. – Sportredaksie

Meer oor:  Marius Jonker  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.