Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
‘Stryd van wêreld se beste vleuels’

’n Stryd tussen twee van die voorste spelers in wêreldrugby wat enige oomblik die gang van ’n wedstryd kan swaai.

So beskryf Carel du Plessis, voormalige Springbok-vleuel en -afrigter, die opwindende tweestryd tussen Cheslin Kolbe en Duhan van der Merwe in Saterdag se eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad.

“Hulle is albei spelers wat jy so veel as moontlik geleenthede wil gee. Jy het te alle tye twee verdedigers nodig om vir Cheslin hok te slaan en Duhan het weer ’n ongelooflike kragelement,” sê Du Plessis.

Cheslin Kolbe is die Springbokke se giftigste angel in die agterlyn. Foto: Getty Images

“Hy is baie vinnig en sterk, maar sy voetwerk en vaardighede is ook baie goed. Die Bokke gaan hul hande vol hê met hom en ek verwag dat hy en Kolbe in ’n boeiende stryd gewikkel sal wees.”

Dit is uit Warren Gatland, afrigter van die Leeus, se spankeuses duidelik die besoekers het ’n plan A en B, sê Du Plessis.

“Met die agterlyn wat gekies is, is dit geen geheim dat hulle aanvallend wil speel nie en dit is opwindend. Werk dit nie, het Gatland plaasvervangers soos Owen Farrell en Conor Murray wat in druksituasies kalmte van die bank af kan bring.”

Breyton Paulse, oud-Bok-vleuel wat sy land in 64 toetse verteenwoordig het, beskryf Kolbe as die voorste rugbyspeler ter wêreld.

“Alles waaraan hy raak, verander in goud en hy maak altyd ’n impak. Kolbe is baie bestendig in dié opsig,” sê hy.

“Maar hy het ’n direkte teenstander wat self ’n groot rol in die toetsreeks kan speel.”

Duhan van der Merwe, die Britse en Ierse se Leeus se 'Boertjie', is groot, sterk en vaardig. Foto: Getty Images

Paulse sê die 26-jarige Van der Merwe, wat vroeër in sy loopbaan vir die Bulle gespeel het voordat hy verlede jaar vir Skotland sy buiging op internasionale vlak gemaak het, sal enorme motivering hê om in sy geboorteland ’n punt te bewys.

“Hy het gewys waarom hy gekies is vir die Leeus. Hy is groot, sterk en sy werketiek beïndruk my baie.”

Paulse is dit eens met Du Plessis dat die Leeus sal wil hardloop.

“As hulle daarin wil slaag, moet hulle eers ’n teenvoeter vir die sterk Springbok-agttal kry en dit is waarom hulle ’n groot pak gekies het met Courtney Lawes op flank,” sê Paulse.

“Jy kan seker verwag dat die Bokke weer meer sal skop om die Leeus in hul helfte onder druk te plaas.”

Du Plessis was die Springbok-afrigter toe die Leeus in 1997 ’n reekssege van 2-1 oor Suid-Afrika behaal het. Hy sê die eerste toets is altyd die belangrike een.

“Jy wil die eerste toets tot elke prys wen. Die span wat met 1-0 voorloop, het ’n bietjie meer vryheid, terwyl die verloorder onder nog groter druk is voor die tweede toets.”

* KYK: Cheslin Kolbe se beste drieë

* KYK: Duhan van der Merwe op sy allerbeste

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.