Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Daar is Lood in Bokke se potlood
Lood de Jager kan dalk nog vir sy Engelse klub, Sale, speel voordat hy vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus by die Springbokke aansluit. Foto: Getty Images

Te midde van al die nuus oor enkelbeserings en brandwonde aan sleutelspelers, kon Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, darem ook Woensdag aan media vertel dat Lood de Jager op koers is om fiks te wees vir die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus.

“Indien als goed verloop, kan hy dalk selfs vir die Engelse Premierliga se eindstryd (op 26 Junie) fiks wees, sou Sale deurdring,” het Nienaber Woensdag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

Selfs al herstel RG Snyman nie betyds van sy beserings nie – hy was ook goed op koers om van ’n kniebesering te herstel voordat hy oor die naweek oppervlakkige brandwonde aan sy bene, arms en gesig opgedoen het – behoort Nienaber tussen De Jager, Eben Etzebeth en Franco Mostert genoeg diepte op slot te hê. Dis nou indien die noodlot nie in die volgende paar weke weer toeslaan nie.

Die prognose vir die ysteragtsteman Duane Vermeulen se enkelbesering lyk nie naastenby só positief nie. Hy was Woensdag onder die mes en dit kan “enigiets tussen vyf en 16 weke wees” voor hy sal kan speel.

Die Bokke se eerste toets teen die Leeus is op 24 Julie.

Jesse (Kriel) het voor 2019 se Wêreldbeker-toernooi ’n soortgelyke besering gehad en vinnig herstel. Dit hang egter af van die erns van die besering.
Jacques Nienaber

“Sekere spelers maak ’n vinnige terugkeer. Jesse (Kriel) het voor 2019 se Wêreldbeker-toernooi ’n soortgelyke besering gehad en vinnig herstel. Dit hang egter af van die erns van die besering. Dit kan ook ’n langtermynbesering wees. Ons sal ná die operasie meer terugvoering kry,” sê Nienaber.

Netwerk24 het vroeër vertroulik verneem dat Vermeulen se tipe enkelbesering ná ’n operasie tipies agt weke neem om te herstel. Sy kans om teen die Leeus te speel, is dus uiters skraal.

Snyman en Damian de Allende, wat die slagoffers was van ’n ontploffing toe een van hul spanmaats brandstof oor ’n vuur gegooi en die blik ontplof het, raadpleeg Vrydag weer ’n spesialis.

Jacques Nienaber (regs), die Springbok-afrigter, en die senter Jesse Kriel staan die media Woensdag te woord. Foto: Gallo Images

Nienaber glo hulle gaan betyds herstel om oor die eerste twee naweke van Julie in toetse teen Georgië te kan speel, maar sê dis nie ’n uitgemaakte saak nie.

Selfs al is die prognose Vrydag goed, sal hulle nog geskik verklaar moet word om ’n oorsese vlug aan te pak.

Snyman se rehabilitasie van sy kniebesering kan dalk ook ’n terugslag beleef indien sy bene seer is van die brandwonde en hy beveel word om te rus.

Nienaber was filosofies toe hy uitgevra is oor dié terugslag.

“Dit kon baie erger gewees het. Ons is maar net dankbaar dat hulle nie permanent letsels sal hê nie en deur dit gaan kom. Dis nie ideaal nie, maar dit was ’n ongeluk en ons gaan maar net planne moet beraam om hulle so gou as moontlik by ons te kry. Uiteraard sal hul welstand voorop gestel word,” sê hy.

“Ons kan die noodlot nie beheer nie, maar kan alles binne ons vermoë doen om dit te tem – wat ons kondisionering, krag en akkuraatheid betref.”

Nienaber kan tans in Bloemfontein net met spelers werk wat in Japan gesetel is.

“Ons sal teen 27 Junie almal beskikbaar hê,” sê hy.

Oor waarmee die afrigtingspan en die klein groep spelers hulle tans besig hou, sê Nienaber dat hulle betekenisvolle voorbereiding doen.

Selfs al is ons ’n klein groep, fokus ons baie op vaardighede, maar binne die konteks van ons wedstrydplan met kondisionering wat daarvan deel vorm.
Jacques Nienaber

“Selfs al is ons ’n klein groep, fokus ons baie op vaardighede, maar binne die konteks van ons wedstrydplan met kondisionering wat daarvan deel vorm,” sê hy.

“Ons sal byvoorbeeld op ’n dag werk aan die aanvallende vaardighede wat ons benodig en die spelers dan wanneer hulle moeg is onder druk plaas om daardie vaardighede te probeer uitvoer.

“Tot dusver het ons bereik wat ons wou. Ons gaan nie die Leeus kan klop met wat ons tot dusver gedoen het nie, maar ek is baie tevrede met die eerste treë wat ons geneem het.”

*Duane Vermeulen in die hospitaal: 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.