Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Damian tevrede om ‘nuwe Frans’ te wees

Of dit voordelig vir iemand soos Damian Willemse is dat hy oral in die agterlyn kan speel, bly ’n interessante debat.

Daar is die teorie dat iemand soos Willemse ’n groter kans het om ’n 23-tal te haal vanweë sy veelsydigheid.

So byvoorbeeld het Frans Steyn in sy 68 toetse buiten skrumskakel en regtervleuel, in al die posisies in die agterlyn vir die Springbokke diens gedoen.

Ruan Pienaar het self 88 toetse op sy kerfstok en het skrumskakel, losskakel en heelagter vir die Bokke gespeel.

Dan is daar iemand soos die blitsbuks Brent Russell, wat hom nooit in ’n posisie kon vestig nie en onverklaarbaar op 26-jarige ouderdom sy laaste toets gespeel het.

Damian Willemse is Saterdag saam met die skrumskakel Herschel Jantjies die enigste agterspelers op die Springbokke se plaasvervangersbank. Foto: Gallo Images

Met die Bokke wat ses voorspelers vir Saterdag se tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion gekies het, kan Willemse hom dalk selfs op vleuel bevind, sou dié teëspoed op die tuisspan se pad kom.

Hy neem die jan-van-alles-rol as’t ware by Steyn oor.

Willemse het in agt toetse sedert 2018 gespeel, maar net twee daarvan was in die beginspan – as heelagter. Hy word nou ook as ’n binnesenter beskou.

“By die Springbokke is die individu se doelwitte en ambisie nooit groter as die span s’n nie en ek is bereid om te help waar ek kan. Ek is gelukkig om al die verskillende rolle te vervul en geniet dit,” sê Willemse.

Sy voormalige spanmaat by die Stormers Damian de Allende help met sy opleiding in die middelveld.

“Hy help my baie en ek is darem al sedert 2018 in die Bok-struktuur. Ek ken die omgewing en weet hoe ons goed benader. Die belangrikste is dat ek my kans aangryp en ek is gelukkig dat ek in daardie opsig die afrigters se ondersteuning het. Hulle gee my die vryheid om te speel.”

Hy het al vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-kompetisie binnesenter gespeel en Willemse sê dit verskil nie so baie van losskakel nie.

“Op senter is jy meer in die voorste linie en jy moet onder meer skoppe opvolg. Dit is steeds rugby en jy moet kan duik, uitgee en alles doen wat (op losskakel) van ’n ou verwag word,” sê hy.

“Ek is nie seker of ek of Willie (le Roux) vleuel toe sal skuif as daar ’n besering is nie. Ons sal Saterdag sien, as dit nodig is.”

Willemse sê die Springbokke is vasberade om die toetsreeks teen die Leeus Saterdag 1-1 te maak.

“Ons was al ’n paar keer in die posisie en ek kan een ding waarborg: Ons gaan nie agteroor sit en onsself jammer kry nie. Daar is baie op die spel en ons werk hard om die regte uitslag te kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.