Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Davids gevra oor Bokke se ‘U-draai’

Die Rassie Erasmus-video maak steeds opslae en dit was Maandag die Springbok-hulpafrigter Deon Davids wat daaroor in die spervuur was.

Davids is op ’n aanlyn nuuskonferensie gevra of hulle (die Springbokke) verras is dat net die Leeus-stut Kyle Sinckler ná Saterdag se tweede toets in Kaapstad vir vuilspel uitgewys is.

Daar was verskeie omstrede voorvalle in die wedstryd en die verwagting was dat talle spelers se deelname aan die derde toets in gedrang kon wees.

Die voorspeler-afrigter van die Bokke het gesê hulle “het vertroue in die prosesse van Wêreldrugby” en sal hulle berus by die besluit, wat ook al die uitkoms (oor Sinckler) is.

Deon Davids, voorspeler-afrigter van die Springbokke, moes Maandag bontstaan oor die Rassie Erasmus-video. Foto: Gallo Images

’n Britse rugbyskrywer het in ’n opvolgvraag aan Davids gesê hy vind dit interessant dat Wêreldrugby se prosesse nou vertroue by die Bok-kamp inboesem – minder as ’n week nadat Erasmus dieselfde beheerliggaam en prosesse gekritiseer het.

“Wat het dan sedertdien verander?” is Davids gevra.

“Ek kan nie sê of iets verander het nie. Dit was nog altyd die beleid om met ’n billike oog na beslissings te kyk om om vas te stel hoe ons kan verbeter.

“Ons het steeds dieselfde uitkyk om krities oor ons vertonings te wees. Daar is altyd ’n deeglike proses wat gevolg word (deur Wêreldrugby) en ons vertrou dit en die besluite wat geneem sal word,” het Davids geantwoord.

Dit is ’n skouspel en fantasties om te sien hoe die geskiedenis voortgesit word.

Of die Erasmus-video indirek ’n rol gespeel het in hoe die skeidsregter in Saterdag se toets, Ben O’Keeffe, en sy assistente die toets gehanteer het, is ’n onderwerp wat Davids liefs vermy.

“Ek kan nie kommentaar lewer en sê of dit ’n rol gespeel het nie, maar ons is taamlik tevrede met hoe sekere aspekte waarop lig gewerp is (in die opbou tot die tweede toets), geblaas is.

“Die kommunikasie tussen die kaptein en skeidsregter was ook goed.”

Gegewe die vyandigheid wat daar regdeur die toer tussen Erasmus en Warren Gatland, afrigter van die Leeus, was, is Davids gevra of die reeks tot dusver ’n swak vertoonvenster vir die spel is.

“Nee, glad nie. Dit is ’n skouspel en fantasties om te sien hoe die geskiedenis voortgesit word. Daar is groot mededinging tussen twee spanne wat uiters talentvolle spelers het.”

In die Bok-kamp word nie verwag dat die Leeus takties veel van hul spelpatroon sal afwyk nie.

“Die Leeus sal vanselfsprekend gaan kyk na hul plan en die uitvoering daarvan. Daar sal seker aspekte wees wat hulle sal wil verbeter. Die lugstryd is ’n groot deel van hul spel, maar ons het in die wedstryde teen ons franchises ook gesien hoe aanvallend hul kan speel.

“Soos altyd, lê die kuns daarin om ’n balans tussen die twee te vind,” sê Davids.

Die Springbokke het intussen Maandag die vleuel Rosko Specman, die belowende Bulle-haker Johan Grobbelaar en die veelsydige voorspeler Dan du Preez by die groep betrek.

Dit is die eerste keer dat Grobbelaar hom in die nasionale opset bevind.

Die agtsteman Duane Vermeulen en Jaden Hendrikse, skrumskakel van die Haaie, het hulle reeds Sondag by die span aangesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.