Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Eerste toets: Dis Bokke teen die brul-spul
Alun Wyn Jones voer die Britse en Ierse Leeus Saterdag teen die Springbokke aan. Foto: Getty Images

Botsende ego’s, watertand-tweestryde en ’n verloopte Suid-Afrikaner. Dán, om die kroon te span voor Saterdag se eerste toets tussen die Springbokke en Britse Ierse Leeus, ’n Suid-Afrikaanse TV-skeidsregter vir die kragmeting – Marius Jonker.

“Daar is ’n gebrek aan versiendheid by Wêreldrugby. Geen plan B nie. Daar is immers ’n rede dat skeidsregters neutraal is,” het Robin McBryde, die Leeus se voorspelerafrigter, gebrul voordat hy die gesprek verskuif het na wat Saterdag binne die Leeus se beheer gaan wees.

Daar is ’n gebrek aan versiendheid by Wêreldrugby. Geen plan B nie. Daar is immers ’n rede dat skeidsregters neutraal is.
Robin McBryde

McBryde het verwys na Jonker se omstrede aanstelling as TV-beampte vir die toets nadat die Nieu-Seelander wat dié rol sou vertolk het, Brendon Pickerill, weens Covid-19-reisbeperkings nie meer na Suid-Afrika kon kom nie.

Wêreldrugby kon skynbaar nie betyds ’n neutrale plaasvervanger vir hom reël nie en die Leeus is eers Donderdag van hierdie verwikkeling in kennis gestel.

Hulle was reeds vies vir Jonker omdat hy nie verlede week aanbeveel het dat Faf de Klerk met ’n rooi kaart gestraf word vir ’n gevaarlike duikslag in Suid-Afrika A se wedstryd teen die Leeus nie.

Gemeet aan hoe die Leeus al die hele week praat – en McBryde weer Vrydag – kan ’n mens net aanvaar dat dit vir die Leeus as ’n groot verrassing sal kom indien dit Suid-Afrika se voorspelers is wat Saterdag die septer swaai.

“Die fisieke aspek is ’n area waarop die Bokke hulself roem. Ek’s seker hulle sal ná daardie wedstryd tussen ons en die SA A-span gefrustreerd wees dat hulle nie enige voordeel uit rolmaalbewegings en skrums kon put nie. Ons moet selfvertroue daaruit put en daarop voortbou,” sê McBryde.

“Ek weet dat daar weerskante toe veranderings aan die spanne is, maar dit was basies ’n Suid-Afrikaanse toetsspan. Ons wil gráág skrum. Ons voel dat ons tegnies baie goed is.”

Om te bepaal hoe belangrik die skrums kan wees, sê McBryde, hoef daar net na 2019 se Wêreldbeker-eindstryd gekyk te word.

“Engeland was by elke skrum onder druk en dit was ’n geleentheid vir die Bokke om die indruk van oorheersing te skep. Die meeste beslissings was in hul guns daar in die eindstryd,” sê hy.

Het Ox Nche die spiere om die Britse en Ierse Leeus se vaskopstut, Tadgh Furlong, te tem? Foto: Gallo Images
Kwagga Smith het in Duane Vermeulen se afwesigheid groot Springbok-skoene om vol te staan in Saterdag se eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

“As enige span hom roem op ’n spesifieke faset van die spel, maar dan nie voordeel daaruit kan trek nie, daag jy hulle uit om ’n plan B te vind.”

Die Leeus hou sedert hul nederlaag van 13-17 oor die SA A-span vol dat hulle daardeur baie selfvertroue gekry het, vernaam omdat daar geglo word dat die Bokke voorspelbaar is en baie dieselfde benadering sal volg. Dit voel omtrent asof hulle glo dat die Bokke nie oor ’n plan B beskik nie.

Dit is wel so dat daar vrae oor die Bokke se skrum is. Tendai Mtawarira, wat in die WB-eindstryd sy 117de en laaste toets gespeel het, het uitgetree. Ox Nche, met net twee toetse agter die blad, is die loskopstut.

Die vaskopstut in die beginspan, Trevor Nyakane, het boonop in die toets teen Georgië en in die wedstryd vir SA A gesukkel in die vaste skrums.

Duane Vermeulen kan ook baie gemis word. Sy plek as agtsteman word deur ’n kleiner speler, Kwagga Smith, ingeneem. Dis ’n verandering wat ook na die lynstane toe kan oorspoel en die Bokke kan verwag dat daar verwoed op hul ingooie meegeding sal word.

Dan moet daar ook uitgekyk word vir die makro-vleuel Duhan Van der Merwe in die besoekers se nr. 11-trui.

Van der Merwe was op sy dag ’n Junior Springbok en is allermins uit die Suid-Afrikaanse stelsel verdryf, maar hy wil die Bokke bitter graag klop.

“Ons is hier om ons werk te doen en die reeks teen die wêreldkampioen te wen. Dit sal álles vir my en die manne beteken om die reeks teen die wêreldkampioen te wen,” het hy Vrydag gesê.

“Om ’n drie te druk, sal ook baie spesiaal wees.”

Dit sal Van der Merwe nie pla as hy onder die Bokke se tonge deurloop nie.

Daar is in elke wedstryd ’n bietjie skeltaal. Ek is gewoond daaraan en weet dat ek ’n bietjie rondgestamp gaan word, maar ek sal dit maar net vermy en op my spel fokus.
Duhan van der Merwe

“Daar is in elke wedstryd ’n bietjie skeltaal. Ek is gewoond daaraan en weet dat ek ’n bietjie rondgestamp gaan word, maar ek sal dit maar net vermy en op my spel fokus,” sê hy.

Of sy Afrikaans ’n voordeel gaan wees – die alewige vraag oor die lynstaantekens wat hy dalk kan verklap – sê Van der Merwe dat hy “niks van lynstane weet nie”.

“As ek ietsie in die agterlyn hoor, sal ek die manne in kennis stel!”

Nie dat die Leeus enige inligting nodig het nie. Hulle glo dat hulle ’n antwoord op die Bokke se plan A het en Alun Wyn Jones, hul kaptein en slot, loop glo op water. Inderwaarheid is Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, seker dankbaar dat hy eerder die slot Franco Mostert (Jones se direkte teenstander) in sy span het.

Dieselfde geld in baie ander posisies, so die Leeus se selfvertroue is dalk net ’n bietjie misplaas. Of dalk ’n bietjie baie.

Skeidsregter: Nic Berry (Australië).

Assistent-skeidsregters: Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland) en Mathieu Raynal (Frankryk).

TV-skeidsregter: Marius Jonker (Suid-Afrika).

TV: 18:00 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Leeustoer
So weeg die Springbokke teen die Britse en Ierse Leeus op.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Duhan Van Der Merwe  |  Ox Nche  |  Kaapstad  |  Eerste Toets  |  Rugby  |  Springbokke  |  Leeustoer  |  Skeidsregter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.