Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Dít het Bokke aangevuur, sê Lood

Dit was persoonlik.

Lood de Jager, slot van die Springbokke, het Maandag verklap wat Suid-Afrika Saterdag so aangevuur het in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus.

Lood de Jager behoort Saterdag weer sy slotvennootskap met Eben Etzebeth te hervat wanneer hulle die Britse en Ierse Leeus in die derde toets pak. Foto: Gallo Images

Dalk het die span nog nie al sy Covid-19-roes afgeskud nie en het die spelers tyd op die veld makeer, maar dit was eerder die teleurstelling in die nadraai van die eerste toets wat die keerpunt was, meen De Jager.

“Ons was teleurgesteld met dit wat ons as plaasvervangers gebring het in die eerste toets.

“Ja, dalk was ons ’n bietjie verroes, maar ons kon nie verskonings maak daaroor nie. Ons het onsself, die afrigters en die land in die steek gelaat.

“En nie net die spelers op die bank nie, al die spelers en die afrigtingspan was teleurgesteld.

“Ons het dit persoonlik opgeneem en besluit om mekaar verantwoordbaar te hou.

“Die ingesteldheid in die vaste fasette was belangrik in daardie opsig.”

Die Leeus-afrigter, Warren Gatland, die ou jakkals wat hy is, het die Bokke Saterdagaand geloof vir die geesdrif en emosie waarmee hulle die toets 27-9 gewen het, maar het in dieselfde asem gesê hy wonder of hulle dit weer kan doen in die derde toets.

De Jager sê “hulle weet waaroor dit gaan”.

“Dit gaan oor meer as jouself wanneer jy jou land verteenwoordig en ek glo ons sal met dieselfde intensiteit en energie Saterdag ingaan.”

Daar was baie op die spel en dit het daartoe bygedra dat die spelers mekaar ingevlieg het.

Gemoedere het Saterdagaand deurgaans oorgekook in die Kaapstad-stadion en De Jager sê dit is omdat daar so baie op die spel is.

“Ja, daar is so ’n bietjie meer niggle. Dit is net die grootsheid van die reeks, hulle speel vir hul lande en is ’n span van wêreldgehalte.

“Vir ons was dit enorm om te wen. As hulle gewen het, was die reeks verlore. Daar was baie op die spel en dit het daartoe bygedra dat die spelers mekaar ingevlieg het.”

Die wêreldkampioen het tot dusver net een drie in die twee toetse teen die Leeus afgestaan en De Jager sê dit is danksy ’n “uitstaande verdedigingsafrigter”, Jacques Nienaber.

“Hy druk ons hard, is nooit tevrede nie en hy maak seker ons spelers stel deurgaans hoër standaarde.

“Ons is tevrede met ons verdediging, maar daar is altyd iets waarop ons kan verbeter.”

De Jager, wat Saterdag in sy 47ste toets gespeel het, het ’n merkwaardige vertoning gelewer nadat hy onlangs van ’n groot beenbesering herstel het.

Die Leeus het die Bokke in die lynstane onder druk gehad voor De Jager se verskyning kort ná rustyd.

Met De Jager aan die spits, was die lynstane ’n aanvallende grondslag vir die tuisspan in die tweede helfte.

Hy behoort sy terugkeer te maak in die beginspan vir die belangrike derde toets, veral as Franco Mostert die leemte van Pieter-Steph du Toit langs die kant van die skrum moet vul.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.