Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Druk lê swaar op Springbok-skouers

Buiten vir ’n Covid-19-beproewing en twyfelagtige beslissings in die eerste kragmeting, is daar boonop ’n verdoemende voorbode wat voor Saterdag se tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus teen die Springbok-rugbyspan tel.

Die Springbokke hou Vrydag kajuitraad ná die span se kapteinsoefening in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

In die vier toetsreekse sedert Dawie de Villiers se Bokke die Leeus in 1968 met ’n loesing van 3-0 huis toe gestuur het (een toets het gelykop geëindig), het die span wat die eerste toets gewen het, ook in die tweede een as die oorwinnaar uit die stryd getree.

Dit was sonder uitsondering die geval in 1974, 1980, 1997 en 2009.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, het Vrydag toegegee die vooruitsig van ’n reeksnederlaag teen die Leeus, is druk wat – midde-in ’n “taai week” – swaar op die Bokke se skouers lê.

Wêreldbeker-helde in 2019, maar ’n wankelende kampioen in 2021, is ’n lot wat Kolisi-hulle ten alle koste in die Kaapstad-stadion wil systap.

“Die wyse waarop ons as ’n span gereageer het, hoe ons geoefen het en ons ingesteldheid, was uitstekend.

“Natuurlik voel ons die druk. Op dié vlak is daar altyd druk, maar nog meer so as jy dink aan wat op die spel is.

“Elke toets is belangrik, maar dié een baie meer, want dit is iets wat net elke 12 jaar gebeur,” sê Kolisi.

Die ontwrigting en gebrekkige voorbereiding in die Bok-kamp het verlede Saterdag in die eerste toets ná rustyd op die telbord gestalte gekry.

Hoeveel skerper en fikser kan die Springbokke ’n week later wees?

In die tuisspan se geledere word daar met oortuiging gepraat van oplewing, maar of dit betyds sal gebeur om die reeks te red, is ’n ander vraag.

Kan hy Duane Vermeulen se skoene vul? Jasper Wiese laat loop die bal in Vrydag se kapteinsoefening op die vooraand van die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

Diegene wat egter hoop die tweede toets gaan ’n aanvallende skouspel oplewer, moenie asem ophou nie.

Albei spanne sal weer voet inlê en hoop die teenstander maak foute wat uitgebuit kan word.

Die Bokke se nuwe agtsteman, Jasper Wiese, se vertoning sal fyn dopgehou word.

Om ’n plaasvervanger vir Duane Vermeulen te kry, was een van Jacques Nienaber se grootste uitdagings.

Die Bok-breier sal duimvas hou dat Wiese nader aan ’n Vermeulen is as wat Kwagga Smith verlede Saterdag was.

“Ons sal hom moet bystaan en help dat hy vinnig op dreef kan kom en die onus is op my en Pieter(-Steph du Toit) om met hom te kommunikeer, sodat hy weet ons is by hom.

“Hy gedy wanneer die spel fisiek raak en ek is baie opgewonde om hom in die span te hê,” sê Kolisi.

Ná die gebeure die afgelope week, het ’n mens ekstra simpatie vir die skeidsregter wat in beheer gaan wees, die Nieu-Seelander Ben O’Keeffe.

Dit is ná dese ’n onbenydenswaardige taak met elke beslissing wat in die volgende paar dae op sosiale media ontleed kan word.

Mag O’Keeffe ligter daarvan afkom as sy kollega Nic Berry, wat Saterdag een van sy assistente sal wees.

Springbokke: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Damian Willemse.

Britse en Ierse Leeus: Stuart Hogg, Anthony Watson, Chris Harris, Robbie Henshaw, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Conor Murray, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones (k), Maro Itoje, Tadhg Furlong, Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola. PLAASVERVANGERS: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Berne, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell, Elliot Daly.

Skeidsregter: Ben O’Keeffe (NS).

Assistent-skeidsregters: Mathieu Raynal (Fr) en Nic Berry (Aus).

TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).

TV: 18:00 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).

Meer oor:  Springbokke  |  Kaapstad  |  Jasper Wiese  |  Britse Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.