Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Du Preez-tweeling kan impak maak
Jean-Luc in aksie vir die Springbokke teen Frankryk in Johannesburg in 2017. Foto: Getty Images

Dat Jean-Luc du Preez en sy tweelingbroer, Dan, tussen hulle maar nog net 17 toetse vir die Springbokke gespeel het, is ’n aanduiding van die geweldige diepte onder Suid-Afrikaanse rugby se losvoorspelers.

Moet egter nie verbaas wees indien daar in die komende seisoene meer van hulle gesien word nie. Albei is in die uitgebreide Springbok-groep vir die reekse teen Georgië en Britse en Ierse Leeus nadat hulle by die Engelse klub Sale goeie rekenskap van hulself gegee het.

Dan het sy Bok-buiging in 2017 teen Frankryk in Parys gemaak en die laaste van sy vier toetse was in 2018 teen Wallis in Washington. Jean-Luc het 13 toetse op sy kerfstok – die eerste teen Wallis in Cardiff in 2016 en die laaste teen Engeland op Nuweland in 2018.

Jean-Luc (links) en Dan du Preez vat vir Aaron Cruden van die Chiefs vas toe hulle destyds saam vir die Haaie gespeel het. Foto: Getty Images

Toe hulle nog in Suid-Afrika vir die Haaie gespeel het, was Jean-Luc hoofsaaklik ’n steelkant-flank en Dan ’n agtsteman. Jean-Luc het egter by Sale ’n kranige slot geword en daardie veelsydigheid kan baie vir die Bokke beteken.

Deon Davids, die Bokke se voorspelerafrigter, het Maandag op ’n aanlyn nuuskonferensie albei se lof besing.

“Ek was bevoorreg om op o.20-vlak met albei te kon werk en het toe reeds geweet dat hulle spelers van gehalte is. Hulle is groot, fisiek, goed in die lynstane, goeie baldraers en sterk in kontak. Hulle kan jou momentum gee en die teenstander s’n stuit,” sê hy.

Dan du Preez beur vorentoe met die bal in die hand vir Sale. Foto: Getty Images

“In Europa het hulle week ná week teen goeie internasionale spelers gespeel en hulself in die fisieke stryde en met hul werkverrigting bewys. Jean-Luc en Dan is lynstaanvoorspelers wat slot en flank kan speel.

“Hulle gee jou net ’n ander dimensie en dis fantasties om te sien hoe hulle ’n tree na bo gegee het en tot hul vermoëns speel. Ons sien uit daarna om hulle hier te hê.”

Jean-Luc du Preez, deesdae ’n slot vir die Sale Sharks, kan vir die Bokke ’n nuttige lynstaanopsie gee. Foto: Getty Images

Dit sal waarskynlik beserings verg om een of albei in die prentjie te kry vir ’n plek in die toetsspan.

Jacques Nienaber, die Bok-afrigter, lê egter dalk ’n bietjie wakker in die posisies wat albei kan dek. Dan sal onder die aanspraakmakers vir die nr. 8-trui wees indien Duane Vermeulen nie van sy enkelbesering herstel nie.

Met dié dat daar kommer oor beserings onder die Bokke se slotte is, kan Jean-Luc se veelsydigheid ook baie beteken. Selfs al is dit met die plaasvervangersbank in gedagte.

“Die groot uitdaging is om spelers te hê wat lynstane kan bestuur. Indien Lood de Jager en RG Snyman uit is, het jy ervare spelers soos Franco Mostert, Nicolaas Janse van Rensburg en Marvin Orie,” sê Davids.

“Dis egter goed om die versekering te hê dat die Du Preez-tweeling en Rynhardt Elstadt as nr. 4-slotte kan speel. Dis goed om daardie veelsydigheid te hê.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Jean-Luc Du Preez  |  Britse Leeus  |  Dan Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.