Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Duane straks terug in Bok-beginspan

Duane Vermeulen kan Saterdag sy verstommende herstel van ’n enkelbesering volbring deur in die Springbokke se nr. 8-trui uit te draf in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus.

Die Bokke sal dié beslissende toets in Kaapstad waarskynlik sonder Pieter-Steph du Toit moet binnegaan, wat sy skouer in die oorwinning van 27-9 in die tweede toets beseer het.

Duane Vermeulen Maandag in Bellville op die oefenveld saam met die Springbokke. Hy kan moontlik Saterdag die nr. 8-trui in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus dra. Foto: Gallo Images

As die Bokke dus besluit Vermeulen, wat hom vandeesweek weer by die Bokke aangesluit het, is fiks genoeg, sal hulle hom graag in die beginspan wil inspan om te vergoed vir die verlies aan Du Toit se ervaring.

Jacques Nienaber, die Bok-breier, en Rassie Erasmus, die direkteur van rugby, kan dit oorweeg om vir Franco Mostert in Du Toit se plek op nr. 7 te kies. Mostert het Saterdag in die tweede helfte flank gespeel en dit is ’n posisie waarin hy ook al vir die Leeus in Superrugby uitgedraf het.

In so ’n geval kan Lood de Jager in Mostert se plek langs Eben Etzebeth op slot sak. De Jager het Saterdag ’n reuseverskil gemaak toe hy in die tweede helfte opgestuur is. Veral in die lynstane. Die Bokke sal dan vier lynstaanopsies hê en die Leeus met ’n makro-agttal probeer sagmaak.

Agterlangs kan daar moontlik ook ’n verrassing wees wanneer die span Dinsdag aangekondig word.

Faf de Klerk het die veld Saterdag in die tweede helfte met ’n heupbesering verlaat. Die Bokke het intussen vir Jaden Hendrikse van die Haaie opgeroep, wat dalk daarop dui dat De Klerk se besering hom uit die derde toets gaan hou.

Met Faf de Klerk wat las het van ’n heupbesering, kan Cobus Reinach dalk die naweek weer vir die Bokke diens doen. Foto: Gallo Images

In so ’n geval kan Cobus Reinach met die nr. 9-trui toevertrou word. Herschel Jantjies, wat die plaasvervangerskrumskakel in die eerste twee toetse was, is ook ’n opsie.

Onder Nienaber en Erasmus se afrigting is die plaasvervangersbank – oftewel die Bomb Squad – egter net so belangrik soos die spelers in die beginspan, indien nie belangriker nie. Daarom sal die Bok-breintrust dalk voel Jantjies bied meer waarde in die laaste 20 minute, ’n rol waaraan hy in die Bok-opset gewoond is en waaronder hy gedy.

Reinach het die nr. 9-trui gedra toe die Bokke verlede maand teen Georgië gespeel het op Loftus Versfeld.

Die res van die Bomb Squad kan ook baie plofkrag hê. Die Bokke kan besluit om drie losvoorspelers – Kwagga Smith, Marco van Staden en Jasper Wiese – almal op die bank te kies, aangesien Mostert dekking op slot bied.

Sodoende sal die Bokke enduit ’n vinnige tempo en hoë intensiteit kan handhaaf.

’n Ander opsie is natuurlik om vir Marvin Orie, Rynhardt Elstadt of Nicolaas Janse van Rensburg op die bank te kies om slot te dek.

Die Bokke se voorspeler-afrigter, Deon Davids, was baie vaag toe hy Maandag gevra is oor die beserings in die Bok-kamp.

Hy wou ook nie sê of Vermeulen oorweeg word vir die derde toets nie, berig Cobus Claassen.

“Dit is fantasties om iemand soos Duane in die groep te hê,” sê Davids.

“Hy het vandag voluit geoefen en was betrokke toe die span se vertoning in heroënskou geneem is. Ons sal eers Dinsdag weet of die mediese span hom die groen lig gegee het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.