Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Freek: ‘Leeus-flank moes geel kaart gekry het’

Noem hom maar ’n “dinosourus”, maar Steve Tandy, die Britse en Ierse Leeus se verdedigingsafrigter, is nie op sosiale media nie.

Een ding waarvan hy wel oortuig is, is dat daar “gepaste kanale” is vir klagtes oor die besluite van wedstrydbeamptes. En die wêreldwye web is dit nie.

Moes Hamish Watson nog vir die Britse en Ierse Leeus op die veld gewees het ná sy boorvat op die Springbok-heelagter, Willie le Roux? Die voormalige blaser Freek Burger meen hy het in die koelkas gehoort. Foto: Getty Images

“Ons het gedink dat die wedstrydbeamptes baie goed gevaar het oor die naweek en as daar enigiets is waarop ons die aandag moet vestig, sal ons dit deur die gepaste kanale doen,” het Tandy op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

Tandy is gepeper met vrae oor Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, wat ’n beweerde voorval van vuilspel deur Mako Vunipola, plaasvervanger-loskopstut van die Leeus, op die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe op Twitter uitgelig het.

Tandy sê die Leeus sal eerder net op hul eie spel fokus as om in sulke gesprekke betrokke te raak.

“Op die einde van die dag sal ons ons praatwerk op die veld doen,” sê hy.

“Rassie se kommentaar is sy eie. Vir ons gaan dit meer daaroor om te fokus op wat ons moet verbeter en om seker te maak dat ons dinge reg doen.

“Ek besef daar is altyd frustrasie onder afrigters. Die beste manier om dit te hanteer, is waarskynlik deur die gepaste kanale. Dis ’n moeilike werk – vir spelers, afrigters en beslis ook wedstrydbeamptes,” sê hy.

’n Beslissing wat baie Bok-ondersteuners warm onder die kraag gelaat het, was die een waar ’n drie nie aan Willie le Roux toegeken is nie toe hy Lukhanyo Am se skop opgevolg het.

Na my mening moes dit ’n geel kaart gewees het. ’n Geel kaart in daardie stadium kon ’n verskil aan die wedstryd gemaak het.
Freek Burger

Marius Jonker, die TV-skeidsregter, het eers gesê dat dit ’n hittete-beslissing is, maar toe bygevoeg dat Le Roux voor Am was. Nic Berry, die skeidsregter, het toe nie ’n drie toegeken nie.

Dat Hamish Watson nie ’n geel kaart gekry het vir sy boorvat op Le Roux nie, is egter ’n beslissing waaroor die Bokke met reg gegrief kan voel.

Die voormalige skeidsregter Nigel Owens het in ’n rubriek vir The Telegraph gesê dat die korrekte beslissings gemaak is met die verwysings na die voorvalle waar daar oor moontlike drieë vir die Bokke beslis was. Hy meen egter dat die Leeus-plaasvervanger Hamish Watson meer as net ’n strafskop verdien het vir sy boorvat op Le Roux.

Die voormalige skeidsregter Freek Burger deel die mening oor Watson en beskryf dit as ’n “kritieke beslissing”. Dit het in die 64ste minuut gebeur toe die Leeus met 19-17 voor was. Hulle het uiteindelik met 22-17 gewen.

“Na my mening moes dit ’n geel kaart gewees het. ’n Geel kaart in daardie stadium kon ’n verskil aan die wedstryd gemaak het,” het Burger aan Netwerk24 gesê.

“As ek ’n uitwysbeampte was en gevoel het dat dit ’n geel kaart moes gegee het, sou ek die reg gehad het om aan hom ’n waarskuwing te gee.

“As dit rooi moes gewees het, sou ek hom daarvoor uitgewys het. In hierdie geval sou ek hom (Watson) nie (vir rooi) uitgewys het nie, want daar was versagtende omstandighede met dié dat hy (Le Roux) op sy arm geval het. Dis vir my belangrik, want dit gaan oor die veiligheid en welsyn van spelers. Ouens kom weg daarmee.”

Burger is van mening dat ’n TV-skeidsregter in só ’n geval ’n proaktiewe rol moet speel.

“As ek in die stoel was en dit gesien het, sou ek onmiddellik ingekom het en gesê het ‘ek wil hê jy (die skeidsregter) moet daarna kyk’,” sê hy.

“Jy wil nie by die algemene spel inmeng nie, maar wanneer dit by gevaarlike spel kom, is dit heeltemal in ’n ander kategorie. Dit gaan oor die veiligheid en welsyn van spelers.”

Meer oor:  Marius Jonker  |  Freek Burger  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus  |  Springbokke  |  Blasers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.