Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Freek Burger oor Itoje, Kolbe se kaarte

Ben O’Keeffe het die regte besluit geneem deur nie die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe met ’n rooi kaart te straf in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus nie, sê die gewese skeidsregter en uitwysbeampte Freek Burger.

Burger meen ook die Leeus-slot Maro Itoje is gelukkig dat hy nie uitgewys is nie nadat hy met sy knie op Damian de Allende se nek gedruk het.

Die veelbesproke voorval waar Maro Itoje sy knie op Damian de Allende se nek gedruk het. Foto: Twitter

Slegs die Leeus-stut Kyle Sinckler is uitgewys nadat hy na bewering die Bok-slot Franco Mostert gebyt het. Dít het rugbyondersteuners aan albei kante verstom, aangesien daar op die oog af talle kandidate was om voor ’n tugkomitee gedaag te word.

Burger meen een van die mees omstrede voorvalle – Kolbe se geel kaart nadat hy teen Conor Murray gebots het terwyl die skrumskakel in die lug was – is reg hanteer.

“As dit kom by ’n speler in die lug speel, sê die reël ‘A player must not tackle, charge, pull, push or grasp an opponent whose feet are off the ground’, ” verduidelik Burger.

Die gewese skeidsregter Freek Burger. Foto: Gallo Images

“Kolbe was nooit in die lug nie, hy was op die grond. Hy het boonop opgekyk na die bal, wat tel as versagting. Hy het gesien hy gaan dit nie maak nie, so hy het nie gespring nie. Hy het nie die bogenoemde reël oortree nie.

“As hy in die lug was, gesien het hy maak dit nie en dan aan die ou begin pluk het, sou dit ’n ander kwessie wees. As uitwysbeampte stem ek saam met die geel, dit was nie rooi nie. Hy was net in Murray se spasie en die wyse waarop Murray geval het, is nie deur Kolbe beïnvloed nie.

“Hy was dalk gelukkig op die veld (om nie rooi te kry nie) omdat dit sleg gelyk het. Dit was wel die regte besluit. Mense sê rooi, rooi, rooi, maar ek stem glad nie saam nie.”

Burger sê hy sou wel vir Kolbe iets gegee het wat as ’n “uitwysbeampte-waarskuwing” bekend staan. Só ’n waarskuwing kom dan op ’n speler se rekord en tel teen hom as hy weer oortree.

Ons moet ook besef dít is ’n kontaksport. Dit is nie ’n speletjie in die sitkamer waar julle op die rusbank sit en mekaar drukkies gee nie.

Tog waarsku Burger “iemand gaan nog sy nek onnodig breek” met “die nuwe manier van speel”, met verwysing na hangskoppe.

En wat maak hy van Itoje se knie op De Allende se nek?

“Rooi, vir seker.”

Hy wonder of die uitwysbeampte, die Aussie Scott Nowland, dit dalk misgekyk het.

Ben O'Keeffe praat met Alun Wyn Jones en Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

Nog ’n omstrede voorval was Faf de Klerk se duikslag op Murray in die eerste helfte, wat nie eens met ’n strafskop gestraf is nie. Burger sê dít was ook die korrekte beslissing.

“Hy het sy arms gebruik. Dit was nie opsetlik dat hy hom met die kop probeer slaan het nie. Ek sou hom nie uitgewys het nie,” sê hy.

“Dit gaan vir my oor spelerswelstand en -veiligheid. Ons gebruik die woorde ‘lei met’. As hy lei met die arm, of die skouer, of die kop, is daar moeilikheid.

“Die ouens stamp gereeld kop en dit is nie opsetlik nie. Vir my is daar geen debat daaroor nie, hy het genoeg arms gebruik, wat die belangrikste element is.

“Ons moet ook besef dít is ’n kontaksport. Dit is nie ’n speletjie in die sitkamer waar julle op die rusbank sit en mekaar drukkies gee nie.”

Oor die algemeen glo hy O’Keeffe het ’n goeie toets beleef.

“Ek gebruik een woord: Bestuur (manage). Hy het 100 persent daarin geslaag en dit is nie maklik nie. Daar was baie olie op die vuur in die eerste helfte, met baie meet and greet . . . kyk, daar gebeur gewoonlik niks. Die ouens gryp mekaar aan die bors en skree in mekaar se gesig.

“Hy was konsekwent. Hy het baie vinnig in die eerste helfte sy stempel afgedruk. Hy het goed met albei kapteins gepraat. Hy het die toets geslaag.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.