Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Gatland besing Van der Merwe se lof

Proewe vir die Britse en Ierse Leeus se span vir die eerste toets teen die Springbokke begin Saterdag, wanneer hulle op Murrayfield in Edinburg teen Japan speel.

Warren Gatland, die Leeus se afrigter, het Dinsdag met die bekendmaking van sy span geen twyfel daaroor gelaat dat niemand se plek in die 23-tal vir die Bok-toetse nog bespreek is nie.

Duhan van der Merwe is die Britse en Ierse Leeus se linkervleuel vir Saterdag se wedstryd teen Japan op Murrayfield. Foto: Getty Images

“Tans het ons nie vooropgestelde idees oor hoe die toetsspan gaan lyk nie. Ons gaan vir almal ’n geleentheid gee en sien wie hul hande opsteek. Die deur is vir niemand toe nie,” het Gatland gesê.

“Dit was ook die boodskap in 2017 (op die Leeus se Nieu-Seelandse toer). Selfs voor die eerste toets het ons aan die spelers gesê wat die Dinsdag teen die Chiefs gespeel het dat die toetsspan nog nie gekies is nie en dat daar steeds vir hulle ’n geleentheid is om dit te haal. ’n Paar van daardie spelers het hul hande opgesteek en die 23-tal vir die toets gehaal.”

Gatland verwag dat daar in die proses ook ’n verrassing kan wees wanneer die span gekies word vir die eerste toets op 24 Julie in die Kaapstad-stadion.

“Dis die opwindende aspek uit ’n afrigtersoogpunt – dat ons nie ’n vooropgestelde idee het oor hoe die toetsspan gaan lyk nie,” sê hy.

Duhan van der Merwe, die gebore Suid-Afrikaner wat vir Skotland speel, tel onder die eerste groep spelers wat ’n geleentheid kry om Gatland te beïndruk. Hy is op die linkervleuel gekies. Tussen hom, Hamish Watson, Zander Fagerson, Rory Sutherland en Ali Price is daar vyf Skotte in die 23-tal wat die geleentheid sal kry om op hul tuisveld in die opwarmwedstryd te speel. ’n Skare van 16 500 sal toegelaat word.

Gatland is opgewonde oor wat Van der Merwe hom dalk kan bied.

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, sê hy't nie vooropgestelde idees oor hoe die span vir die eerste toets teen die Springbokke moet lyk nie. Foto: Getty Images

“Duhan bied vir ons ietsie anders. Hy was die voorste driedrukker in die Sesnasies-reeks en is op 110 kg groot vir ’n vleuel. Hy kan vir jou momentum gee, maar hy bied meer as om net sterk met die bal te hardloop. Hy kan baie goed aftrap, is vinnig en het die vermoë om drieë af te rond,” sê hy.

Gatland sê die Leeus het ’n wedstrydplan in gedagte om Japan te klop, maar probeer terselfdertyd die uitdaging wat die Bokke gaan bied in gedagte hou.

“Japan sal waarskynlik teen ’n vinniger tempo as die Bokke speel. Hulle is nie ewe fisiek in die sin dat hulle jou by die lynstane, skrums en deur rolmaalbewegings probeer takel nie. Hulle is nie so direk soos wat ons verwag Suid-Afrika sal wees nie,” sê Gatland.

“Ons hou albei uitdagings in gedagte – areas wat ons voel vir ons sukses teen Japan kan bied, maar ook wat ons teen Suid-Afrika kan verwag.”

Dit is nog onduidelik of Saterdag se wedstryd amptelike toetsstatus sal hê, maar Gatland sê die Leeus benader dit as ’n ware toets.

“Dis nie in my hande nie, maar wat ek vir jou kan sê, is dat ons teen ’n sterk internasionale span vir wie ons baie agting het, speel. Japan het die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi gehaal, so ons berei voor asof dit ’n toets is,” sê hy.

Japan het in 2019 in die Wêreldbeker-toernooi op tuisbodem onder andere met Ierland en Skotland afgereken, voordat die Springbokke hom in die kwarteindronde uitgeskakel het.

Britse en Ierse Leeus: Liam Williams, Josh Adams, Robbie Henshaw, Bundee Aki, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Conor Murray, Jack Conan, Hamish Watson, Tadhg Beirne, Alun Wyn Jones (k), Iain Henderson, Zander Fagerson, Ken Owens, Rory Sutherland. PLAASVERVANGERS: Jamie George, Wyn Jones, Tadhg Furlong, Courtney Lawes, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell, Anthony Watson.

Meer oor:  Duhan Van Der Merwe  |  Bokke  |  Warren Gatland  |  Springbokke  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.