Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Gatland spoeg nóg vuur in Bokke se rigting

Die Britse en Ierse Leeus gaan in hul vergadering met die skeidsregter voor Saterdag se derde toets teen die Springbokke vra dat daar nie toegelaat word dat die tempo van die wedstryd deur die tuisspan vertraag word nie.

Warren Gatland, die Leeus se afrigter, het die Springbokke Dinsdag van vertragingstaktiek in verlede naweek se tweede toets in die Kaapstad-stadion beskuldig.

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, meen die Springbokke het met vertragingstaktiek gesorg dat verlede naweek se tweede toets in die Kaapstad-stadion met rukke en stote gespeel word. Foto: Getty Images

Volgens hom is die wedstryd met rukke en stote gespeel en albei helftes het te lank geduur.

“Daar’s twee dinge – om balbesit te behou en ook gesprekke met die beamptes om seker te maak dat die wedstryd aanhou vloei,” het Gatland gesê.

“Ons het gevoel dat daar by elke skrum ’n besering was, die wedstryd vertraag is . . . daar was iets soos 14 minute se betrokkenheid van die TV-skeidsregter.

“Die rukke en stote waarmee gespeel is, het ons frustreer. Ons wil teen ’n vinnige tempo speel – om die bal in en uit die skrums te kry, dit vinnig by die lynstane in te gooi en om vloei te kry.

“In hierdie stadium wil Suid-Afrika dit nie doen nie. Ek weet dat Alun Wyn Jones (die Leeus se kaptein) met die skeidsregter gepraat het om die wedstryd aan die gang te kry.

Ons het gevoel dat daar by elke skrum ’n besering was, die wedstryd vertraag is . . . daar was iets soos 14 minute se betrokkenheid van die TV-skeidsregter.

“Daar was ’n verandering van stewelknoppies, verwysings na die TV-skeidsregter, die skeidsregter wat die spel staak vir krampe . . .”

Gatland voeg by dat hy daardie saak by die skeidsregters gaan aanroer. Mathieu Raynal, van Frankryk, is die skeidsregter aan die stuur in die beslissende toets in die Kaapstad-stadion, met Nic Berry en Ben O’Keeffe wat sy assistente gaan wees.

“Ons moet seker maak dat ons nie helftes van meer as 60 minute het nie,” sê hy met verwysing na die ellelange eerste helfte van die tweede toets, wat bykans 64 minute geduur het.

“Dis belangrik dat daar vloei in die wedstryd is. Kykers wil ook goeie rugby sien en daar is nie uitsonderlike rugby oor die naweek gespeel nie.”

Of jy daardie mening deel, sal waarskynlik van jou nasionaliteit afhang. Die berekende skoppies van Faf de Klerk en Handré Pollard om die Bokke se drieë te skep en die agttal se puik skrumwerk tel beslis as goeie rugby.

Gatland sê egter dat die Bokke ’n gebrek aan kreatiwiteit het en die Leeus nie “op enige manier” deur aanvallende spel onder druk geplaas het nie.

Hy meen verder dat die Bokke Pieter-Steph du Toit en Faf de Klerk in die derde toets sal mis.

“Dis groot verliese vir hulle, want albei is spelers van wêreldgehalte. Hulle het ’n groot impak op die spel,” sê hy.

Daar was vir die Leeus Dinsdag ’n hupstoot nadat die Engelse stut Kyle Sinckler in ’n tugverhoor vrygespreek is van die aantyging dat hy die Bok-slot Franco Mostert in die tweede toets gebyt het. Sinckler is op die plaasvervangersbank.

Gatland het ses veranderinge aan die span gemaak wat die tweede toets begin het:

• Liam Williams vervang Stuart Hogg op heelagter;

• Josh Adams neem Anthony Watson se plek op regtervleuel;

• Bundee Aki vervang Chris Harris op senter;

• Ali Price ruil plekke met Conor Murray op skrumskakel;

• Ken Owens vervang Luke Cowan-Dickie op haker; en

• Wyn Jones dra die nr. 1-trui in Mako Vunipola se plek.

Aki vorm ’n senterpaar met Robbie Henshaw – ’n kombinasie wat met groot vrug deur Ierland ingespan word. Adams was op sy beurt in Wallis se kleure die voorste driedrukker in 2009 se Wêreldbeker-toernooi.

Price se insluiting dui straks ook daarop dat die Leeus teen ’n vinniger tempo op die aanval gaan probeer speel.

Britse en Ierse Leeus: Liam Williams, Josh Adams, Robbie Henshaw, Bundee Aki, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Ali Price, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones, Maro Itoje, Tadhg Furlong, Ken Owens, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola, *Kyle Sinckler, Adam Beard, Sam Simmonds, Conor Murray, Finn Russell, Elliot Daly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.