Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Gatland baie beïndruk met Duhan

Duhan van der Merwe – of liewer Doo-han vandeMurwe, soos Warren Gatland hom noem – is besig om ’n groot kleim vir ’n toetsplek af te steek.

Duhan van der Merwe (links) lewer Saterdag op Loftus Versfeld nóg ’n spogvertoning in die Britse en Ierse Leeus se wedstryd teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaans gebore makrovleuel het Saterdagaand weer ’n spoggerige vertoning gelewer in die Leeus se oorwinning met 71-31 oor die Haaie in Pretoria.

Van der Merwe het sy span se eerste drie geskep deur ’n gaping te slaan en daarna sy Skotse spanmaat, die senter Chris Harris, deur te stuur vir ’n drie. Hy het later self ook ’n drie gedruk, wat sy totaal na vyf drieë in drie wedstryde op die toer laat opskuif.

“Hy was uitstekend vanaand,” het Gatland, die Britse en Ierse Leeus se afrigter, oor Van der Merwe gesê.

Benewens die drie wat hy gedruk en geskep het, het hy gevaarlik gelyk elke keer wat hy aan die bal geraak het. Die sewe teenstanders wat hy geklop het, was die meeste deur enige speler in die wedstryd.

Gatland was ook tevrede met die ander twee lede van die agterste driehoek, Anthony Watson en Liam Williams, maar oor albei van hulle het hy gesê daar is nog hier en daar iets om aan te skaaf. Dít terwyl Van der Merwe “uitstekend” was – finish en klaar.

Gatland sê die mededinging is uiters fel vir plekke in die beginspan vir die eerste toets op 24 Julie in Kaapstad. Veral in die agterste driehoek.

Die Wallieser Josh Adams, wat nie Saterdag gespeel het nie, het tot dusver ’n allemintige agt drieë gedruk – reeds ’n toerrekord. Hy en Van der Merwe staan ’n goeie kans om die vleuels in die eerste toets te wees, met die Skot Stuart Hogg moontlik op heelagter.

Die indrukwekkende jong Louis Rees-Zammit is egter ook ’n kandidaat vir ’n plek op een van die vleuels, terwyl Williams en Watson albei ook briljante spelers is.

Gatland hoop om in die volgende week meer duidelikheid te kry oor hoe sy toetsspan moontlik kan lyk. Die Leeus is veronderstel om Woensdag teen die SA A-span te speel en Saterdag teen die Stormers, maar Gatland sê dié wedstryde kan moontlik omgeruil word, weens Covid-19-gevalle in die Bok-kamp.

Die SA A-span word ook vanuit spelers in die Bok-kamp gekies en die Bok-bestuur sal die spelers eers weer vir ’n ruk op die oefenveld wil kry nadat hulle verlede week moes isoleer weens Covid-19-gevalle.

Rapport het ook berig dat daar moontlik twee SA A-wedstryde kan wees en dat die Stormers sodoende nie kans teen die Leeus sal kry nie. Daar is nog nie klarigheid nie, maar Gatland is oortuig dat sy span wel Woensdag teen iemand sal speel.

Hy was bly dat die Haaie die Leeus Saterdag vir 45 minute ’n bietjie getoets het. Ná ’n driekwartier se spel was die telling met 26-elk gelykop, maar ná ’n rooikaart vir die Haaie-skrumskakel Jaden Hendrikse was dit eenrigtingverkeer.

“In die eerste helfte het ons ons eie probleme geskep deur omgekeerde besit en onderskepaangeë af te staan,” sê Gatland.

“Suid-Afrika gaan ook probeer om ons onder druk te plaas. Ons sal dus net meer akkuraat moet wees.”

• Die Leeus het versoek dat die personeel by hul hotel in Kaapstad vroeër moet inklok en deurentyd getoets moet word. Die vermoede is dat die enkele positiewe gevalle in die Leeus-kamp dié week te wyte is aan positiewe gevalle onder die hotelpersoneel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.