Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Gatland waarsku Duhan oor uitdaging
Duhan van der Merwe speel Saterdag vir die Britse en Ierse Leeus teen sy geboorteland in die eerste toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion. Foto: Getty Images

Die Van der Merwe in die Britse en Ierse Leeus se span kan ’n paar onbeskofte grappies van die Springbokke te wagte wees in Saterdag se eerste toets in die Kaapstad-stadion, voorspel die toerspan se afrigter, Warren Gatland.

“Ek het gister met Duhan gesels en vir hom gesê: ‘Jy weet wat kom hierdie naweek?’ Hy was ten volle daarvan bewus, want ek neem aan die Springbokke sal hom voos wil duik elke keer wanneer hy die bal het en dat hy waarskynlik onder hul tonge sal deurloop. Hy is deeglik bewus van wat op die spel is,” sê Gatland.

“Maar hy’s ongelooflik ontspanne. Kyk hoe hy met die bal hardloop, die hoeveelheid verdedigers wat hy klop en die drieë wat hy druk. Hy was die voorste driedrukker in die Sesnasies-reeks.”

Met die keuse van Van der Merwe in die Leeus-span is daar ’n ware Dawid-teen-Goliat-stryd op die vleuel, want hy het die Bok-blitsbuks Cheslin Kolbe as regstreekse teenstander. Min spelers spog egter met die groot aansien waarop Kolbe hom kan roem.

“Dit gaan ’n groot uitdaging wees,” sê Gatland oor wat in daardie tweestryd op Van der Merwe wag.

“Cheslin het nie veel geleenthede in ons wedstryd teen die Suid-Afrika A-span gekry nie, maar het die een wat na sy kant toe gekom het, aangegryp. Ons kan nie bekostig om die bal by sy keelgat af te skop nie. Hopelik gee ons hom nie Saterdag soveel tyd en ruimte nie.”

Ons kan nie bekostig om die bal by Cheslin Kolbe se keelgat af te skop nie. Hopelik gee ons hom nie Saterdag soveel tyd en ruimte nie.
Warren Gatland

Vir Gatland was die bepalende faktor in die keuse van sy linkervleuel die feit dat Josh Adams, die voorste driedrukker in die Wêreldbeker-toernooi in 2019, benede peil was in die afgelope naweek se wedstryd teen die Stormers.

Adams se verloofde, Georgia, het verlede Woensdag – op die dag van die SA A-wedstryd – die lewe aan ’n babadogtertjie geskenk. Hy was aanvanklik vir daardie wedstryd gekies, maar het hom onttrek. Die emosionele aspek het moontlik ’n tol op sy spelpeil geëis.

Gatland het vir ’n paar verrassings gesorg.

Owen Farrell begin Saterdag op die plaasvervangersbank.

Conor Murray en Owen Farrell, wat baie kenners met die aanvang van die toer sou gedink het die skakelpaar gaan wees, is op die plaasvervangersbank. Dis veral interessant gegewe dat Murray as toerkaptein aangestel is nadat Alun Wyn Jones in die opwarmwedstryd teen Japan beseer is. Jones het egter onverwags vinnig van sy skouerbesering herstel en voer die Leeus Saterdag aan.

Gatland het wel genoem dat spelers soos Murray en Farrell se koelkoppe van groot nut sal wees om die wa in die tweede helfte deur te drif te trek.

Die fisieke aanslag wat verwag word, is weer eens beklemtoon. Gatland het so ver gegaan as om te sê dat die Leeus die Bokke se ego’s in die SA A-wedstryd “geknou het”, al het sy span met 13-17 verloor.

“Ons was in die SA A-wedstryd in ons noppies met hoe dit in die lynstane gegaan het, hoe ons teen rolmaalbewegings verdedig het en ons skrumwerk. Teen die einde het ons in die skrums oorheers,” sê Gatland.

“Ek is geweldig beïndruk met ons verdediging op hierdie toer. Ons het nog nie ’n drie van ’n rolmaalbeweging of ’n optel-en-dryfbeweging naby ons doellyn afgestaan nie. As ons kan keer dat hulle in daardie afdelings oorheers, sal die Bokke iets anders moet vind.”

Ofskoon die Leeus baie praat oor “arm druk” met die Bokke, sê Gatland dat hulle nie dieselfde taktiek as Suid-Afrika sal volg nie.

Jy kan nie ’n toets teen Suid-Afrika ingaan sonder dat jy poog om ewe fisiek as hulle te wees nie, want jy kan nie daardie soort oorheersing toelaat nie.
Warren Gatland

“Jy kan nie ’n toets teen Suid-Afrika ingaan sonder dat jy poog om ewe fisiek as hulle te wees nie, want jy kan nie daardie soort oorheersing toelaat nie. Toetsrugby gaan oor die fisieke stryd. Dit sal nie verander nie,” sê hy.

“Maar jy moet slim wees en toeslaan wanneer die geleentheid daar is om aan te val.”

• Intussen heers daar ’n bietjie spanning in die Leeus se kamp nadat Gatland se span in die media uitgelek het voor Woensdag se aankondiging.

“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Dit was nie 100% korrek nie, maar duidelik het dit uitgelek. Dit kon doelbewus, per ongeluk of ’n geval gewees het van iemand se vertroue wat verraai is, deur ’n speler of personeellid,” sê hy.

“Wat ek volgende week sal doen, is om die span onmiddellik aan die media bekend te maak nadat ek die spelers in kennis gestel het.”

Britse en Ierse Leeus:
Stuart Hogg, Anthony Watson, Elliot Daly, Robbie Henshaw, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Ali Price, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones (k), Maro Itoje, Tadgh Furlong, Luke Cowan-Dickie, Wyn Jones. PLAASVERVANGERS: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Beirne, Hamish Watson, Conor Murray, Owen Farrell, Liam Williams.
 
Meer oor:  Duhan Van Der Merwe  |  Warren Gatland  |  Owen Farrell  |  Suid-Afrika  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Toetsreeks  |  Rugby  |  Vleuel  |  Springbokke  |  Leeustoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.