Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Harris sê hy wil onder Bokke inklim

Die keuse van Chris Harris in die plek van Elliot Daly gee vir die Britse en Ierse Leeus ’n 21 kg-hupstoot in hul middelveld vir Saterdag se tweede toets teen die Springbokke in die Kaapstad-stadion.

Chris Harris (met die bal) en Lukhanyo Am gaan ’n herontmoeting hê in Saterdag se tweede toets tussen die Springbokke en Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion. Hierdie foto is uit ’n kragmeting tussen die Leeus en ’n SA A-span vroeër dié maand. Foto: Getty Images

Lukhanyo Am, die Bokke se nr. 13, het vir Daly, wat 83 kg weeg, vroeg in die eerste toets met ’n plettervat omtrent uit sy rugbystewels geduik. Vir die Leeus was dit net weer ’n herinnering oor die aard van die uitdaging teen die Bokke en dit verbaas geensins dat hulle besluit het om spierkrag na die middelveld te bring nie.

Harris (30), wat 28 toetse vir Skotland agter sy naam het, sê hy verwelkom die soort uitdaging wat hy en sy sentermaat, die Ier Robbie Henshaw, te wagte kan wees oorkant die Bok-duo van Am en Damian de Allende.

“Ek het in ons wedstryd teen die Suid-Afrika A-span teen daardie senterpaar gespeel, so ek het ’n goeie idee van wat hulle gaan bring,” sê Harris, wat 104 kg weeg.

“Hulle was aggressief as baldraers en ook op die verdediging. Ek geniet die fisieke aspek van die spel. Dis hoe Suid-Afrika speel en pas my. Dis vir my ’n geleentheid om te wys van watter stoffasie ek gemaak is en onder hulle in te klim.”

Harris verwag dat daar ’n “baie groter begeerte” by die Bokke sal wees om te wen ná hul nederlaag in die eerste toets.

Chris Harris by ’n oefensessie van die Britse en Ierse Leeus in Hermanus Dinsdag. Foto: Getty Images

“Hulle sal ekstra fisiek wil wees, maar ons moet dit maar net afweer en harder terugslaan,” sê hy.

“Ons móét sielkundig opdaag. Ons kan nie die ingesteldheid hê dat ons ’n toets in die sakkie het en daar nóg ’n kans (vir ’n reeksoorwinning) sal wees as ons verloor nie.”

Harris is Dinsdag onkant betrap toe Warren Gatland, die Leeus se afrigter, hom in kennis gestel het dat hy in die tweede toets gaan begin.

“Ek het dit geensins sien kom nie en gedink dat dieselfde span dalk weer gekies sou word. Maar dit was ’n aangename verrassing,” sê hy.

“Dis vir my ’n geleentheid om te wys waartoe ek in staat is en om ’n bydrae te lewer wat ons hopelik kan help om nog ’n wen te kry.

“Warren het duidelike verwagtinge van ons as ’n span, wat ons van Suid-Afrika moet verwag en wat ons van onsself moet verwag.”

Ofskoon hy en Henshaw ’n nuwe senterpaar op die toetsverhoog is, glo Harris nie dat hulle probleme gaan hê om mekaar te vind nie.

“Ons het vroeg op die toer dikwels saam geoefen. Ek sien uit daarna om saam met Robbie te speel. Hy is ’n gehaltespeler. Ek dink ons sal mekaar goed aanvul,” sê Harris.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.