Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Is Kwagga vir ‘Bomb Squad’ bestem?
Kwagga Smith word in 2019 in Wellington in die Springbokke se toets teen die All Blacks deur Kieran Read vasgevat. Foto: Getty Images

Met Francois Louw se uittrede uit toetsrugby en daardeur ook die "Bomb Squad" op die Springbokke se plaasvervangersbank, is daar ’n pos om te vul in die span wat die Britse en Ierse Leeus aanstaande maand aandurf.

En as daar ’n aansoek is wat waarskynlik baie ernstig opgeneem sal word, is dit dié van Kwagga Smith. Hy ken sy storie as ’n baljagterflank en is elders in die lostrio ook gemaklik. Trouens, hy sal dalk selfs sy oog op die nr. 8-trui hê indien Duane Vermeulen nie betyds van ’n enkelbesering herstel nie.

“Ek sien kans vir enigiets,” het Smith vandeesweek gesê toe hy oor die kwessie van sy verkose posisie uitgevra is.

“Ek het die hele seisoen in Japan (vir Yamaha Jubilo) agtsteman gespeel, wat my spel daar uiteraard baie sou gehelp het. By die Wêreldbeker-toernooi het ek as ’n nr. 7-flank gespeel en ek het in ’n Rugbykampioenskap-wedstryd teen Nieu-Seeland as ’n nr. 6-flank gespeel.

Kwagga Smith bevind hom in ’n ‘Springbok-toebroodjie’ op Shimlapark, waar die Springbokke op die oefenveld slyp vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

“Ek werk maar nou net hard om seker te maak dat, indien die geleentheid kom, ek gereed sal wees.”

Die 28-jarige Smith het sy Bok-buiging in 2018 teen Wallis in Washington gemaak. Dit was maar ’n saamgeflanste span wat in Amerika gaan speel het en hy het eers die volgende seisoen ’n kans gehad om sy kleim af te steek.

Smith het vir die Bokke in ’n gelykopstryd teen die All Blacks en in twee oorwinnings oor Argentinië gespeel en daardeur die eksamen geslaag om ’n plek in die Bokke se groep vir die WB-toernooi. Daar het hy in die wegholwenne oor Kanada en Namibië gespeel.

Rassie Erasmus, toe die Springbok-afrigter en nou die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het duidelik gehou van wat hy gesien het. Dieselfde geld sy opvolger, Jacques Nienaber, wat toe ook in die afrigtingspan was.

Smith se insluiting in die groep vir die Leeus-reeks laat ’n mens onwillekeurig terugdink aan die losvoorspelertroef wat die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers in 2009 in die vorm van Heinrich Brüssow gespeel het.

Scarra Ntubeni lak Kwagga Smith op Shimlapark, die Springbokke se oefenveld by hul kamp in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Brüssow het aan die einde van 2008 sy buiging as ’n plaasvervanger in die oorwinning van 42-6 oor Engeland op Twickenham gemaak, maar hy is as ervare genoeg gereken om in sy tweede toets teen die Leeus op Kingspark te begin. Brüssow het daardie jaar heerlik in die Bokke se nr. 6-trui baljaar en ’n jong Smith se verbeelding in die proses aangegryp.

“Ek het na daardie wedstryde gekyk toe ek op hoërskool was. Hy (Brüssow) was baie goed in daardie Leeus-reeks en tel onder my rolmodelle,” sê Smith.

“Natuurlik sal ek wil goed speel en daardie standaarde wil bereik, maar ek is ook uit eie reg ’n speler.”

Met Siya Kolisi wat as kaptein waarskynlik die nr. 6-trui sal dra, is dit onwaarskynlik dat Smith die Brüssow-draaiboek gaan volg. Maar wees gerus op die uitkyk vir hom.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Bokke  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.