Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Is Ox van ‘Bomb Squad’-stoffasie?

Met net een toets agter sy naam en dít in ’n saamgeflanste Springbok-span teen Wallis in Washington in 2018, is die vraag nou of die loskopstut Ox Nche opgewasse sal wees om lid te word van die veelgeroemde “Bomb Squad” in die komende toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus.

Ox Nche is ’n yster vir die Haaie, maar hoe sal hy in ’n Springbok-trui teen die Britse en Ierse Leeus vaar? Foto: Gallo Images

Tendai Mtawarira was ’n instelling in die Groen-en-goud voordat hy sy 117de en laaste toets in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gespeel het. Steven Kitshoff, wat toe op die plaasvervangersbank was, sal waarskynlik vorentoe die nr. 1-trui dra. Maar wie gaan die vuur van die plaasvervangersbank af stook?

Gegewe die keuse van stutte in die Bokke se groep lyk dit asof Nche die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, en die hoofafrigter, Jacques Nienaber, se gunsteling is om dié rol te vervul.

Benewens Nche en Kitshoff is die ander kandidate – Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen en Thomas du Toit – spelers wat aan albei kante van die skrum kan sak. Met die verloop van tyd het hulle egter hoofsaaklik aan die vaskopkant begin speel.

Deon Davids, die Bokke se voorspeler-afrigter, het Maandag op ’n aanlyn nuuskonferensie geen twyfel gelaat oor sy vertroue in Nche nie.

“Dis welbekend dat Ox ’n kwaliteitspeler is,” sê hy.

“Beast was spesiaal wat betref wat hy die span gebied het. Sy ervaring was waardevol. Jy vervang nie sommer sulke ervaring nie.

“Ox is bestendig in sy vertonings. Dis vir hom nou ’n goeie tyd om te wys dat hy die tree na bo kan gee vir die pad vorentoe. Wat die basiese dinge betref, sy begrip van die spel en werkverrigting, is sy teenwoordigheid in die kamp ’n bate.”

Nche se beweeglikheid kan hom straks uitgeknip maak vir die Bokke se plaasvervangersbank, die sogenaamde Bomb Squad, die groep plaasvervangers wat vroeg in die tweede helfte van wedstryde opgestuur is en uiteindelik ’n kritieke rol in die verowering van die Wêreldbeker-toernooi gespeel het. Een van die Bomb Squad se kenmerke was dat ’n gans nuwe vaste vyf in wedstryde opgestuur is om die pap voorlangs dik aan te maak.

Deon Davids, die Springbokke se voorspeler-afrigter, gesels Maandag met die rugbymedia. Foto: Gallo Images

Die Bokke se agttal sal nietemin armer wees sonder Mtawarira en binne daardie konteks sal daar net stywer duim vasgehou word dat die ervare agtsteman Duane Vermeulen betyds van sy enkelbesering herstel. Oor Vermeulen en ander beseerdes het Davids sy planne dig gehou.

“Jacques kry gereeld terugvoering van die mediese span oor beseerde spelers. Die mediese personeel is in kontak met die spelers se klubs.”

Indien daar nog enige twyfel was oor of Siya Kolisi sy plek in die beginspan verdien – die Bok-kaptein het nie ’n wafferse seisoen agter die rug nie – het Davids dit uit die weg geruim. Bygesê, daar was by die Haaie darem ’n opwaartse kurwe in Kolisi se spel.

“Ek en Siya en die res van die voorspelers het gesels oor tegniese dinge in die onlangse reekse. Jy kon by die Haaie in onlangse weke sien dat daar ’n duidelike verbetering in Siya se spel – veral wat hy weg van die bal doen – is,” sê Davids.

“Die ervaring wat hy bied, is fantasties. Hy is ’n sleutelspeler in ons agttal vir die pad vorentoe.”

Meer oor:  Deon Davids  |  Bokke  |  Springbokke  |  Leeus-Toer  |  Britse Leeus  |  Ox Nche
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.