Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Jaco terug vir stryd teen Britse Leeus
Jaco Kriel in Januarie in aksie in die Curriebeker-halfeindstryd teen die Bulle. Dit was sy laaste wedstryd vir die Leeus voordat hy ’n enkel-operasie ondergaan het. Foto: Gallo Images

Hy het 11 keer die Groen-en-goud oor sy kop getrek, al die Curriebeker gelig en in drie Superrugby-eindstryde gespeel, maar Saterdag wag iets op Jaco Kriel waarvan hy geen ervaring het nie: ’n wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus.

Die 31-jarige Kriel sal Saterdag vir die eerste keer in meer as vyf maande terug op die rugbyveld wees nadat hy van ’n enkeloperasie herstel het.

Hy kon beswaarlik vra vir ’n beter verhoog vir sy terugkeer. Dis immers nie elke speler wat gelukkig genoeg is om in hul loopbane teen die Britse en Ierse toerspan te staan te kom nie.

Die Johannesburgse Leeus het Maandag die groep van 26 spelers aangekondig, uit wie hul 23-tal vir Saterdag gekies sal word. Kriel is saam met die gereelde nr. 7, Vincent Tshituka, asook MJ Pelser en Sibusiso Sangweni een van vier flanke in dié groep.

Die 20-jarige Sangweni het die nr. 6-trui in die Leeus se laaste twee wedstryde gedra en hom teen die Westelike Provinsie baie goed van sy taak gekwyt. Voor dít het Pelser homself egter uit sy skoene uit gespeel in dié posisie en was hy een van die Leeus se beste en bestendigste spelers in die Reënboogbeker-reeks.

Pelser, Tshituka en Francke Horn het ’n gedugte lostrio in dié reeks gevorm. Dit maak dus sin om hulle teen die Britte te herenig. Ná soveel tyd langs die kantlyn sal dit Kriel egter nie in die minste skeel as hy van die bank af moet opkom nie.

Ná ’n blink vertoning vir die Junior Bokke sal die losskakel Jordan Hendrikse Saterdag die kans kry om homself aan toetsspelers te meet. Foto: Gallo Images

Ook vir die jong Jordan Hendrikse wink ’n Saterdag wat hy nooit sal vergeet nie. Dié jong losskakel het verlede week 18 punte vir die Junior Bokke aangeteken en gehelp om Argentinië te bêre en Maandag sy 20ste verjaardag met sy terugkeer na die Leeus-kamp gevier.

Hy was goud werd vir die Johannesburgers in die Reënboogbeker en kan nou kans kry om te wys hy kan ook sy man staan teen toetsspelers wat veel ouer as hy is.

Aan die ander kant van die spektrum kry Jannie du Plessis ’n geleentheid om te wys hoeveel staal daar nog in sy bene is wanneer hy die Britse Leeus vir die tweede keer in sy loopbaan pak.

Du Plessis het 12 jaar gelede op vaskopstut vir die Haaie gesak in hul 2009-wedstryd teen die Leeus, en hoop om hulle nou, as ’n 38-jarige, reeds in hul eerste wedstryd hier te laat huis toe verlang.

Aan die loskopkant kan die Leeus-afrigter, Ivan van Rooyen, weer Sti Sithole oorweeg nadat hy die begin van die Curriebeker-reeks misgeloop het. Ook die senter Burger Odendaal (die Leeus-kaptein in die laaste deel van die Reënboogbeker) is weer beskikbaar.

Leeus-groep (alfabetiese volgorde):
PJ Botha, Ruan Dreyer, Jannie du Plessis, Jordan Hendrikse, Francke Horn, Dan Kriel, Jaco Kriel, Rabz Maxwane, Nathan McBeth, Reinhard Nothnagel, Burger Odendaal, MJ Pelser, Manuel Rass, Carlu Sadie, Sibusiso Sangweni, Ruben Schoeman, Sti Sithole, Dillon Smit, Ruhan Straeuli, Emmanuel Tshituka, Vincent Tshituka, Jamba Ulengo, Morné van den Berg, EW Viljoen, Jaco Visagie, Fred Zeilinga.


Meer oor:  Jordan Hendrikse  |  Jaco Kriel  |  Johannesburg  |  Rugby  |  Besering  |  Flank  |  Leeustoer  |  Springbok  |  Goue Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.