Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
‘Japanse’ Bokke kan steeds spiere bult
Jesse Kriel in aksie vir die Canon Eagles in Japan. Foto: Getty Images

Daar hoef nie kommer te wees oor die vermoë van Springbokke wat in Japan gesetel is om fisiek gereed te wees vir die eise wat die komende reeks teen die Britse en Ierse Leeus aan hulle gaan stel nie, sê Jesse Kriel.

Die 27-jarige Kriel, wat vir die Canon Eagles in Japan speel, is een van vyf “Japanse” Bokke in die uitgebreide groep vir die reeks. Die ander is Malcolm Marx (Kubota Spears), Franco Mostert (Honda Heat), Kwagga Smith (Yamaha Jubilo) en Willie le Roux (Toyota Verblitz).

“Baie mense bevraagteken hoe fisiek die rugby in Japan is, maar daar is talle taai oorsese spelers daar. Min mense dra ook kennis van die spelers uit die Suidsee-Eilande daar en hulle is beswaarlik klein,” sê Kriel.

Jesse Kriel sê dis beslis nie ’n geval dat daar net “raakrugby” in Japan gespeel word nie. Foto: Gallo Images

“Daar is ’n bietjie fisieke intensiteit en die tempo van die rugby is vinnig. Maar geen kompetisie kan by die intensiteit van toetsrugby kers vashou nie.

“Ons sal in die komende weke aan die fisieke aspek werk om slaggereed te probeer wees vir die toetse.”

Die Bokke sal waarskynlik ook baat vind by die toetse teen Georgië op 2 en 9 Julie wat die reeks teen die Leeus voorafgaan. Terwyl die Bokke daardie toetse sonder groot ongerief behoort te wen, het die Georgiërs wel ’n fisieke ingesteldheid tot die spel, wat dit waardevolle kleedrepetisies kan maak.

Vir Kriel het ’n reeks teen die Britse en Ierse Leeus selfs nog meer betekenis as ander Bokke. Bo en behalwe die feit dat hulle net elke 12de jaar in Suid-Afrika kom toer, het Kriel se oupagrootjie John Hodgson in 1930 vir die Leeus twee toetse teen die All Blacks in Nieu-Seeland gespeel.

“Dis persoonlik en spesiaal vir my,” sê hy.

“Met die laaste reeks in 2009 was ek nog op skool. Ek het baie lekker herinneringe van Jaque Fourie se drie en Morné Steyn se skop wat die reeks beklink het. Hierdie geleentheid kom as ’n reël net een keer in jou loopbaan, so almal gaan die meeste van die geleentheid probeer maak.”

Selfs al was hy op die krukkelys, kon Jesse Kriel steeds ná die eindfluitjie met prins Harry kennis maak nadat die Bokke vir Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd afgestof het. Foto: Getty Images

Of dié groot geleentheid vir hom persoonlik is nadat hy ’n besering in die Bokke se eerste wedstryd van die Wêreldbeker-toernooi opgedoen het en gevolglik nie enduit in Japan kon speel nie, sê Kriel dit is beslis nie die geval nie.

“Ek het tot en met die besering alles ingesit wat ek kon. Ek was steeds deel van die span en kon ’n bydrae lewer. So, gelukkig het ek nie sake om af te handel nie. Ek wil so hard as moontlik werk om hopelik op ’n positiewe wyse by te dra.”

Jesse Kriel in al sy glorie op die speelveld. Foto: Getty Images

Kriel sê daar sal baie inspirasie geput word uit die veterane van 2009 se reeks, Frans en Morné Steyn.

“Hulle doen die basiese dinge baie goed en maak nie foute nie. Dis ouens na wie ons opsien en wil nadoen. Hulle stel die voorbeeld by oefensessies en maak goeie punte wanneer dit nodig is. Dís die standaarde wat hulle stel en ons moet dit nadoen, want dit het vir hulle gewerk.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Jesse Kriel  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.