Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leeus-toer
Joggie soek meer duikslae soos Am s’n

Hy sou graag wou sien dat die Springbokke Lukhanyo Am se voorbeeld van die eerste toets volg en Saterdag in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus nog meer verwoesting op die verdediging saai, sê die oud-Springbok Joggie Jansen.

Lukhanyo Am het sommige rugbykykers met sy duikslag verlede naweek op Elliot Daly aan Joggie Jansen se duikslag in 1970 op Wayne Cottrell laat dink. Foto: AP

Jansen was in sy speeldae ’n gevreesde verdediger, wat sy teenstanders soms so bang geduik het dat hulle nie eens aan die bal wou vat nie.

Dit was die einste Jansen wat in die eerste toets teen die All Blacks in 1970 vir Wayne Cottrell so hard geduik het dat daardie duikslag vandag nog as een van die bestes nóg deur ’n Springbok beskou word.

Verlede naweek het Am met sy duikslag op Elliot Daly Jansen se hart tjoklits laat klop.

“Jissie, dit was ’n goeie een daardie. Hy (Am) tackle oor die algemeen baie goed. Hy som ’n situasie baie goed op,” sê Jansen.

“Eintlik is al die Springbokke goeie verdedigers. Ek wil net graag meer aggressiewe first-time tackling sien.

“Partykeer hang een van ons manne aan die teenstander se bene en dan moet iemand eers kom help om die ou plat te trek.”

Joggie Jansen op die aanval in die reeks teen die All Blacks in 1970. Jansen het die Nieu-Seelanders in daardie reeks mak geduik. Foto: Weer Wêreldkampioene

Nee, dit sal nie deug nie. Jansen wil hê daardie Leeu moet sommer so twee tree terug geduik word as hy aan die bal vat.

“Vir my is ’n duikslag soos om ’n bres op die aanval te slaan. Jy moet 99,9% gereed wees daarvoor.”

Volgens Jansen moet Am en sy sentermaat Damian de Allende dit dalk oorweeg om die taktiek wat hy en Dirk Froneman in 1976 se Curriebeker-eindstryd vir die Vrystaat teen die Westelike Provinsie gebruik het, in te span.

“Ek het vir Dirk verduidelik hoe ons vir Peter Whipp en Johan Oosthuizen (die WP-senters) moet ontsenu,” vertel Jansen.

“Die eerste keer wat hulle die bal gekry het, het ek voluit vir Whipp gegaan en hy het so vinnig moontlik die bal na Oosthuizen uitgegee en toe line Dirk vir Oosthuizen op.”

Verwoesting in die middelveld. Soos om met ’n dubbelloop-haelgeweer ’n gat in die span wat probeer aanval se linie te skiet. Dis wat Jansen soek.

Jansen is vol vertroue dat die Bokke hierdie naweek die bordjies teen die Leeus sal verhang.

’n Onlangse foto van Joggie Jansen en sy dogter Ilke. Foto: Verskaf

“Hulle sal hul planne reg hê. Daar is nou baie spottery oor die waterdraer (Rassie Erasmus), maar hy is nie vandag se aap nie,” sê Jansen.

Die legendariese agterspeler voel wel effens onseker oor die feit dat die Bokke net twee agterspeler-plaasvervangers op die bank gaan hê.

“Ek wil nie vir die keurders vertel wat hulle moet doen nie. Hulle ken die ouens beter as ek en hulle weet wat hulle wil doen,” sê hy.

“Maar dalk, dalk moet ’n ou soos Frans Steyn ook daar wees wat die bal van ver af pale toe kan skop of ’n langafstand-skepdoel deur die pale kan jaag.”

Kyk hier na Joggie Jansen se duikslag in 1970 op Wayne Cottrell


Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Lukhanyo Am  |  Joggie Jansen  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.